Thursday, 31 January 2008

Man ontken hy skiet Pta Technikon-direkteur

Jan 30 2008 10:31:14:607PM - (SA)

Jeanne-Marié Versluis

’n Man wat daarvan aangekla word dat hy ’n direkteur van die ou Technikon Pretoria sewe jaar gelede by haar huis in Lynnwood in die stad doodgeskiet het, het gister skuld in die Pretoriase hooggeregshof ontken.

Mnr. Jeffrey Mogatla (30) word daarvan beskuldig dat hy me. Mariana Bothma (47) in die vroeë oggendure van 5 Desember 2000 in haar huis se oprit doodgeskiet het.

Hy word ook daarvan beskuldig dat hy me. Anneline Stroebel hier beroof het.

Mogatla het skuld ontken op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Hy het nie ’n pleitverduideliking afgelê nie.

Mogatla, wat in Mamelodi-Oos gewoon het, se borgtogaansoek is verlede jaar in die Pretoriase landdroshof afgekeur.

Stroebel het gister getuig sy en Bothma het mekaar van universiteitsdae af geken.

Sy het by Bothma gewoon.

Volgens Stroebel het sy dié oggend omstreeks 02:30 wakker geword toe haar kamerlig aangeskakel is.

Bothma en ’n man met ’n vuurwapen het by die kamerdeur gestaan. ’n Tweede, gewapende man het na haar (Stroebel se) bed gestap. Sy het hom met haar kruk probeer slaan, maar misgeslaan.

Hy het haar in Afrikaans beveel om in haar kamer te bly.

Stroebel het getuig sy het haar vriend per selfoon laat weet daar is gewapende mense in die huis en hy moet die polisie bel.

Sy het toe in die gang afgestap om ’n telefoonboekie te gaan haal.

Sy het haar hond sien lê. Dié was geskiet.

Met die boekie terug in haar kamer, het sy hul buurman gebel.

Die tweede man het weer die kamer ingekom en wou weet of sy die polisie gebel het. Sy het gesê sy het haar vriend gebel.

Die man het haar selfoon afgesit en dit en haar handsak gevat.

Volgens Stroebel het sy later na Bothma se kamer geloop. Een van die mans in dié kamer het haar (Stroebel) beveel om na die badkamer te gaan.

Stroebel het getuig sy het later skote en glas wat breek, gehoor. Sy het uit die badkamer gehardloop. Die polisie was reeds in die huis.

Bothma het buite op die oprit gelê, het sy getuig.

Die saak duur voort.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2261671,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.