Friday, 11 January 2008

Man vas oor boer se moord

Jan 10 2008 09:36:43:967PM - (SA)

Dries Liebenberg

Durban. – Die landbougemeenskap van Estcourt was gister geskok oor die nuus dat ’n pionier-beesboer van dié omgewing na bewering vermoor is deur ’n man wat op sy plaas gewoon het.

Die 18-jarige mnr. Nkosithemba Nchaba het gister vlugtig in die Pietermaritzburgse hooggeregshof verskyn in verband met die moord op mnr. David Greene (74) op 20 Desember op sy plaas Rustenbergspruit.

Nchaba is eergisteroggend 05:00 in die Estcourt-omgewing in hegtenis geneem deur lede van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad in die KwaZulu-Natalse Middellande.

Hy word aangehou nadat sy saak tot 22 Januarie uitgestel is.

Greene sr. se seun, David, het gister gesê Nchaba het op die plaas gewoon en die familie “was goed vir hom”. “Ek kan nie glo dat iemand vir wie ons só baie gedoen het, só iets kon doen nie,” het Greene jr. gesê.

Greene sr. is op 20 Desember op kort afstand met ’n 9 mm-pistool in die voorkop geskiet nadat hy vroegaand oudergewoonte sy paar skape in ’n kamp gaan toemaak het en daarna na die tenk gestap waar die huis se water warm gemaak word.

Aan die voetspore tussen struike kon mens sien dat die aanvaller sy pa bekruip en toe reguit na hom gestap en van naby in die voorkop geskiet het, het Greene jr. destyds gesê.

Mev. Dorothy Greene, die oorledene se vrou wat in die tuin doenig was, het iemand in die huis sien verdwyn en die gesin het later die aand agtergekom twee selfone en ’n selfoonlaaier is gebuit. Nadat dié moord skerp kritiek van die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu) ontlok het oor die manier waarop boere se regte verontagsaam word terwyl grondeise afgehandel word, het supt. Muzi Mngomezulu, polisiewoordvoerder, gister gesê roof was die motief vir die moord. Rustenbergspruit is een van talle plase in die omgewing wat betrokke is by ’n grondeis.

Hierdie eis gaan die eerste in die provinsie wees waar die grondeisekommissie grond onteien omdat daar nie op ’n verkoopprys ooreengekom kan word nie. Greene sr., wat voorheen in Kwanalu se direksie gedien het, was die eerste om met Boran-beeste uit Ethiopië in Suid-Afrika te teel.

Dié vleisbeeste se gewildheid is vinnig aan die toeneem.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2249768,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.