Monday, 7 January 2008

Man voor kinders geskiet

Mev. Ursula Picton-Turbervill (41) van Waterkloofrif, Pretoria, en haar oudste dogter, Samantha (10), was gister ontroosbaar nadat twee rowers haar man, Fred (46), doodgeskiet het.Foto: Leon Botha

Jan 06 2008 11:20:02:857PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Pa van Waterkloofrif in Pretoria is eergister sowat ’n kilometer van die huis van die nasionale polisiehoof komm. Jackie Selebi voor sy kinders en vrou in ’n huisrooftog doodgeskiet.

Mnr. Fred Picton-Turbervill (46) van Ariesstraat is enkele ure later op sy oudste seun, Jamie, wat in Engeland woon, se 21ste verjaardag dood.

Selebi woon in Delphinusstraat en dit loop dood in Ariesstraat.

Picton-Turbervill, ’n direkteur van ’n meubelvervaardigingsmaatskappy, sy vrou, Ursula (41), en hul kinders Samantha (10), Bryony (9), Natasha (6) en Gregory (3) is eergisteraand om 21:30 deur twee gewapende rowers tuis oorval.

Die rowers het ’n skootrekenaar, vier selfone en sowat R1 000 kontant gesteel.

Picton-Turbervill het gister by ’n vriendin, me. Kim Tucker, se huis in Waterkloofrif gesê die rowers het “my kinders se lewens vir flippen selfone verwoes”.

Picton-Turbervill het gesê die kinders het in en uit die huis gehardloop en sy en haar man het televisie gekyk toe die rowers toegeslaan het en hulle beveel het om plat te lê.

“Hulle het geskreeu ‘slaap, slaap!’ en ‘geld, geld’. Ons het almal in die eetkamer plat gaan lê.

“My man het vir hulle gevra om asseblief nie die kinders seer te maak nie. Hy het ook gevra of die kinders nie na ’n ander kamer kan gaan nie, maar die rowers wou nie,” het sy hartseer gesê.

“Een van die rowers het skielik my man, wat half opgetrek agter my gelê het, deur die oog in die kop geskiet.

“Hy het op my neergesak. Samantha het huilend klein Gregory se oë toegedruk sodat hy nie moes sien hoe hul pa hom doodbloei nie, terwyl Bryony en Natasha net doodstil gelê het.

“Hulle het my toe deur die huis na ons kamer geneem waar ek vir hulle my juwelekissie en my man se beursie gegee het.”

Die rowers het haar terug na die kinders geneem voordat hulle gevlug het.

“Nadat hulle weg is, het ek die kinders in die motor gelaai en na Kim se huis gejaag vir hulp. Ek het die kinders daar gelaat en terug na my huis gejaag om by my man te waak terwyl ons op die polisie gewag het,” het sy huilend vertel.

Mnr. Hugo Minnaar, ’n nooddienswerker van LifeMed, het gesê toe hulle op die toneel kom, het Picton-Turbervill in ’n bedenklike toestand op die eetkamervloer gelê.

“Ons het hom op lewens- ondersteuningstoerusting geplaas en hom na die Little Company of Mary-hospitaal geneem waar hy later dood is,” het Minnaar gesê.

Picton-Turbervill het gesê haar man se hele regterbrein is beskadig. “Daar was niks wat hulle vir hom kon doen nie.”

Sy het gesê Jamie vlieg vandag na Suid-Afrika om by hulle te wees.

Dit was gister nie duidelik of Selebi bewus was van die voorval so naby sy huis nie. Dir. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, kon nie sê of Selebi by die Picton-Turbevill-gesin gaan aanklop om te simpatiseer nie, maar het gesê “as hy dit wel sou doen, sal hy verkies dat dit privaat gehou word”.

Kapt. Lucas Sithole, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die voorval.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2247264,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.