Tuesday, 8 January 2008

Ná tweede aanval hou egpaar hul pistole gereed

Jan 07 2008 08:50:32:987PM - (SA)

Virginia Keppler

“Ek het my pistool op hulle leeg geskiet en ek dink ek het een van hulle getref.”

Só het mev. Marietha Holmes (42), ’n inwoner van Maraisstraat in Mnandi in Centurion, gister gesê nadat sy en haar man die tweede keer binne twee weke deur gewapen-de rowers aangeval is.

Holmes se man, Charles (47), is in sy bene en hand gewond. Hy sterk in die Kalafong-hospitaal aan.

Minstens drie gewapende rowers het die egpaar eergisteraand omstreeks 19:30 by hul huis oorval. Hulle het ná ’n uitstappie pas hul vierwielmotorfietse afgelaai en was in die huis toe die rowers toegeslaan het.

“Ek was besig om wasgoed te sorteer en my man het in die gang afgeloop toe hy hoor hoe ons glasdeur toeklap. Hy het eers gedink dit is ons hond, maar toe hy omdraai, het die rowers op hom begin skiet en sy een voet amper afgeskiet.

“Hy het geval, sy pistool uitgepluk en begin terugskiet. Toe ek hoor hy gil en die skote klap, het ek by die kombuisdeur begin uithardloop. Die rowers het reg verby my gehardloop,” het Holmes gesê.

Sy het haar pistool by haar gehad, dit uitgehaal en ook losgebrand.

“Ek het net aangehou skiet. My man het omtrent ’n leopard crawl na die kombuisdeur gedoen en geskreeu: ‘Skiet hulle, skiet hulle!’ ”

Volgens Holmes het dokters haar man dieselfde aand nog geopereer en koeëls uit sy bene en hand verwyder.

“Hulle het ook penne in sy been gesit om dit te heg. Een van sy vingers is byna heeltemal vergruis en dokters moes penne in sy hande sit.”

Holmes het gesê tydens die eerste gewapende rooftog op 21 Desember verlede jaar het twee rowers haar in die huis aangehou en vasgedruk. “Hulle het ook twee van my honde doodgeskiet.

“Hoeveel keer moet ons deur die situasie gaan voordat iets gedoen gaan word om misdaad te stop?” het sy moedeloos gevra.

Holmes het gesê sy en haar man haal nou vroegaand hul pistole uit en dra dit by hulle.

Kapt. Solomon Marindi, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2247822,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.