Wednesday, 23 January 2008

Ontdekking toe sy nie opdaag: Dood, met handdoek om nek

Jan 22 2008 10:08:35:663PM - (SA)

Hilda Fourie

’n Vrou (61) van Cullinan is dood in haar kamer gevind.

Volgens mnr. Johannes Jafta, woordvoerder van Cullinan-polisiekantoor, is mev. Connie Janneke vermoedelik deur die nag verwurg. Sy is met haar hande en voete vasgebind en ’n handdoek om haar nek gevind.

Janneke, ’n werknemer van Du Plooy Melkery in Cullinan, het vier dae voor haar dood van Kempton Park na Cullinan verhuis.

Janneke het by haar werkgewer op ’n kleinhoewe in Kaalfontein buite die dorp geloseer.

“Die moordenaars het deur die voordeur toegang tot die huis gekry,” het Jafta gesê.

“Hulle het een van die glasvensters van die houtdeur uitgebreek.

“Die vrou bly aan die een kant van die huis en haar werkgewer en sy gesin aan die ander kant.

“Die eienaar het gesê hulle het geslaap en niks gehoor nie.

“Hy het gisteroggend (eergisteroggend) na die vrou gaan soek toe sy nie vir ontbyt opgedaag het nie.

“Die eienaar het haar in haar kamer gekry waar sy op haar bed gelê het. Haar hande en voete was agter haar rug vasgemaak. Sy het ’n handdoek om haar nek gehad.

“Mev. Janneke is omstreeks 06:20 gevind.

“Ons vermoed dat sy verwurg is, maar ’n nadoodse ondersoek (wat vandag gedoen word) sal die oorsaak van haar dood bevestig,” het Jafta gesê.

Volgens Beeld se inligting is net ’n selfoon gesteel. Die ander inwoners van die huis is ongedeerd.

’n Moordsaak word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.


Dit is die derde ernstige misdaadvoorval in die Cullinan-omgewing die afgelope maand.

Op Nuwejaarsdag is mnr. Paul Harris deur vier gewapende rowers halfdood gelos. Die rowers het met elektriese ware weggekom wat die polisie ’n paar dae later teruggevind het.

Die volgende dag is mnr. en mev. Kobus en Lynn Vermaak op hul plaas buite Cullinan deur gewapende rowers oorval. Hulle is nie beseer nie.

Jafta kon nie bevestig of dié sake met mekaar verband hou nie.

Die polisie ondersoek twee sake van gewapende roof.

Enigiemand met inligting rakende die voorvalle, kan die Cullinan-polisiekantoor skakel.

Oorsprong:beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2256608,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.