Sunday, 20 January 2008

Oud-polisieman skiet kaper sewe keer om sy vrou te red

Mnr. Mark Beyers (30) van Lyttelton, Centurion, en sy vrou, Shanene (26). Hy het 'n gewapende motorkaper buite sy huis doodgeskiet toe 'n bende in 'n motor stilgehou en op die gesin toegeslaan het.Foto: Leon Botha

Jan 18 2008 11:16:52:973PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Gewapende motorkaper het ’n noodlottige flater begaan toe hy sy vuurwapen op die vrou van ’n voormalige lid van die polisie se taakmag gerig het.

Dié kaper (30) is sewe keer deur die voormalige taakmag-lid geskiet: in die hart, pelvis, arm en keel. Hy is op die toneel dood.

Mnr. Mark Beyers (30) en sy vrou, Shanene (26), het eergisteraand om 19:45 by sy ouerhuis in Langebrinkstraat in Lyttelton, Centurion, gestop toe die kapers toeslaan.

Mev. Beyers het uitgeklim om hul hond op te tel, terwyl haar skoonma die hek oopgemaak het. Haar man het uit die passasiersitplek geklim om die motor in die erf in te ry toe ’n silwer Volkswagen Jetta met vier mans agter hulle gestop het.

“Twee van die mans het met vuurwapens agter uit die motor gespring,” het mnr. Beyers gesê.

Toe sy vrou sien wat gebeur, het sy weggehardloop, maar een van die rowers het haar ingehaal, haar teen ’n boom op die sypaadjie vasgepen en aangedring op haar motorsleutels.

“Ek het gesê ek het dit nie en toe gee ek hom my selfoon, maar hy het sy vuurwapen teen my kop gedruk en aangedring dat ek hom die sleutels gee.”

Wat die rower nie besef het nie, is dat die sleutel nog in die motor se aansitter was. Die motor het geluier.

Mnr. Beyers het intussen ’n paar meter in die straat af gehardloop om sy Glock.40 kaliber vuurwapen uit te pluk sonder dat die rowers hom sien.

“Toe ek omdraai het twee van die rowers steeds voor in hul voertuig gesit, een het aan my regterkant gestaan met sy wapen op my gerig en die ander het sy wapen teen my vrou se voorkop gehad.”

Beyers, wat so agt jaar in die polisie was, het gesê hy moes vinnig besluit watter een hy eerste gaan skiet om sy vrou te red. “My polisie-opleiding het ingeskop. ’n Wonderbaarlike kalmte het oor my gekom en toe skiet ek op die rower by my vrou.”

Dié rower het vyf keer op mnr. Beyers teruggeskiet – sonder om hom te tref. “Ek het hom sewe keer raakgeskiet. Hy het straat op gehardloop en na sowat 300 m dood neergeval,” het Beyers gesê.

Die rower aan mnr. Beyers se regterkant het intussen weggehardloop.

“Die ander rowers (in die motor) het my probeer omry, maar ek het een skoot deur hul voorruit geskiet op die bestuurder en nog ’n skoot deur hul venster. Ek dink ek het die bestuurder getref.”

“Dit was soos die Wilde Weste. Ons het net perde gekort,” het mev. Beyers gesê. “Ek was geseën. Somtyds wen ons ook,” het mnr. Beyers gesê.

Kapt. Prince Mokhabela, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek ’n klag van poging tot motorkaping en hulle doen ook ’n geregtelike doodsondersoek.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2254623,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.