Saturday, 5 January 2008

Pa begin slaan om dogter te red van verkragting

Mnr. Edward Gerber het ná 'n aanval by sy Port Elizabeth-huis van die boonste verdieping gespring om hulp te ontbied. Foto: Sergio Baartzes

Jan 04 2008 09:47:43:263PM - (SA)

Riëtte Olivier

Port Elizabeth. – Die heldhaftige optrede van ’n bebloede pa wat tydens ’n rooftog uit sy huis se boonste verdieping gespring het om hulp te ontbied, het moontlik verhoed dat sy dogter verkrag is.

Oomblikke voor dié sprong eergisteraand laat het mnr. Edward Gerber (41) van Clarendon Marine by Seaview hom losgewikkel waar die inbrekers hom en sy gesin vasgemaak het.

Daarna het hy die inbrekers self aangevat.

Die voorval het net voor middernag gebeur toe vyf inbrekers ’n kombuisvenster gebreek het om toegang tot die gesin se huis te kry.

Gerber en sy gesin het op die tweede verdieping gelê en slaap toe die inbrekers hulle wakker gemaak het, vertel hy.

“Terwyl van die inbrekers besig was om my en my vrou, Joan-Adri, met elektriese kabels vas te bind, het die ander twee van my drie kinders, Vinette (9) en Stefan (7), ook na my bed gebring en hulle óók vasgebind,” het Gerber gesê.

“Daarna het hulle lappe oor ons oë gebind en ’n kombers oor ons gegooi.”

Terwyl die gesin verskeie angsbevange minute beleef het, het die inbrekers die huis deurgesoek. Selfone, skootrekenaars, vleis en ’n beursie met R30 in is gesteel.

Daarna het hulle Gerber se oudste dogter, Vicki (17), gaan haal.

“Hul plan was beslis om haar te verkrag, maar gelukkig het ek losgeruk. Ek het die mans, wat om haar gestaan het, van agter begin slaan,” het Gerber gesê.

Die inbrekers het messe uitgepluk en wild begin steek. Gerber is sewe keer gesteek, onder meer in sy rug en kop.

Gerber kon hom losruk. Hy het van die balkon af gespring en gelukkig in die gesin se swembad beland.

“Ek het net gehoop ek spring nie die swembad mis nie, want daar was nie eintlik kans vir mik nie. Daarna het ek die polisie se noodnommer gaan skakel.”

Een van die inbrekers is in bosse naby die huis vasgekeer.

Hy het van die gesteelde goedere in sy besit gehad.

Nadat hy ondervra is, het hy die polisie na die huise van nog vier inbrekers geneem – wat toe ook aangekeer is.

Hoewel die verdagtes ontken dat hulle by ander rooftogte in die omgewing betrokke was, het ’n slagoffer van ’n rooftog vroeër die week, mnr. Conrad Rademeyer, reeds een van die verdagtes deur middel van ’n foto uitgeken.

Die verdagtes is tans in aanhouding by die Kabegapark-polisiekantoor.

Hulle sal Maandag op klagte van huisroof in die hof by die St. Albans-gevangenis verskyn.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2246725,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.