Wednesday, 16 January 2008

Partytjieplan nou ’n begrafnis ná bejaarde se moord

Jan 15 2008 10:44:24:120PM - (SA)

Buks Viljoen

Balfour. – Sy familie sou ’n verrassingspartytjie vir hom gereël het vir sy 80ste verjaardag.

Nou beplan hulle sy begrafnis.

Mnr. Danie Roos (79), ’n afge­trede boer wat nou al langer as 20 jaar in dié dorp woon, is eergisteroggend in sy groentetuin vermoor.

“Ja, dis maar swaar,” het Roos se hartseer seun, Nollie, gister aan Beeld gesê. Hy het gesê hulle het reeds begin om die verrassingspartytjie te reël, “waar die hele familie sou saamtrek”. Sy pa sou op 8 Februarie 80 word.

Die polisie het ’n vroeë deurbraak in die moord gemaak toe vingerafdrukke en DNS-monsters op die plastieksakkie van ’n splinternuwe pakkie onderbroeke wat van Roos gesteel is, gevind is.

Roos het Maandagoggend twee jong mans, wat glo tussen 18 en 20 jaar oud is en nou al etlike weke probeer om by hom werk te kry, in diens geneem.

Hulle het Maandagoggend begin om ’n stuk grond op sy burgererf by 49 Voortrekkerstraat skoon te maak.

Die vermoede bestaan dat Roos reeds in die loop van die oggend vermoor is nadat die verdagtes hom skynbaar glo na die agterplaas gelok het deur te kla dat ’n waterpyp in die groentetuin stukkend is.

Omstreeks 12:45 het die twee aan die agterdeur geklop waar hulle die oorledene se vrou, mev. Jacomina Roos (75), vir water gevra het. Hulle het haar oorval toe sy die agterdeur oopgesluit het om vir hulle die water te gee.

Volgens insp. Johan Steyn, die ondersoekbeampte, het die moordenaars mev. Roos aangerand en geld by haar gesoek.

Hulle het haar later in die badkamer toegesluit en daarna die huis deurgesoek.

Net enkele items, wat ’n selfoon, bietjie kontant, die pakkie onderbroeke en ’n leerbaadjie insluit, is gesteel.

Mev. Roos het deur die badkamervenster om hulp geroep.

Haar buurman, mnr. Hansie Van der Vyfer, het haar hulpkrete gehoor en ondersoek ingestel.

Hy moes die huis se deur oopbreek om mev. Roos uit die badkamer te bevry.

Ná ’n soektog is Roos se lyk sowat 50 m van die huis af tussen lang gras in die hoek van die erf gekry.

“Hy was waarskynlik reeds ’n geruime tyd dood aangesien hy reeds koud was,” het Steyn gesê.

Daar was minstens sewe steekwonde aan Roos se rug. Die polisie het spore van die verdagtes gevolg en op die pakkie onderbroeke afgekom.

Daar is intussen vasgestel dat die twee verdagtes hulle iewers in New Castle, KwaZulu-Natal, bevind.

“Die twee ou mensies was altyd so vriendelik en rustig.

“Danie het elke dag in die groentetuin gewerskaf,” vertel ’n huisvriend, mnr. Koos van Rensburg. Hy bly ook in Voortrekkerstraat sowat vier huise van die moordhuis af.

“Ek ken hulle al langer as 20 jaar.

“Ek kon dit nie glo toe ons gistermiddag hoor dat Danie vermoor is nie.”

Roos word Vrydag uit die Hervormde Kerk op die dorp begrawe.

Enige inligting in verband met die moord kan die publiek aan insp. Steyn by 0 084 808 6900 deurgee.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2252426,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.