Saturday, 26 January 2008

Polisielid val glo kollega aan

Jan 25 2008 11:13:41:473PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Polisie-inspekteur by die Pretoria-Noord-polisiekantoor is glo erg geskok en bang nadat sy deur ’n kollega in dié polisiekantoor se vuurwapensentrum aangerand is.

Beeld het betroubaar verneem dat dié 34-jarige slagoffer se beweerde aanvaller ook ’n inspekteur is by dieselfde polisiekantoor.

Die bron het gesê dié polisieman was reeds aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy na bewering vroeër vandeesmaand ’n vroulike gevangene by die Sino- ville-polisiekantoor aangerand het.

Hy word verder deur nog twee klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en intimidasie in die gesig gestaar.

Dié klagte is by die Sinoville-polisiekantoor aanhangig gemaak.

Die jongste voorval het na bewering eergister om 11:00 plaasgevind.

“Die polisievrou was besig om ’n lid van die publiek te help met haar aansoek om ’n vuurwapenlisensie toe ’n polisie-inspekteur in burgerdrag by haar lessenaar verby gestap het.

“Hy het onmiddelik begin om papiere bo-op haar dokumente teen die muur te plak,” het die bron vertel.

Volgens die bron het die polisievrou die man gevra wat hy doen en ’n woordewisseling het ontstaan.

“Die polisieman het die vrou agter haar tafel uitgepluk en op haar geskreeu: ‘ You are a lily white bitch, you don’t belong here .’

“Die polisievrou het die man se papiere van die muur afgeruk en agter hom aangeloop en vir hom gevra wat sy naam is. Hy het haar aan haar arm gegryp en van balans af geruk, waarna sy geval het,” het die bron vertel.

Die lid van die publiek wat kom aansoek doen het om haar vuurwapenlisensie, het só groot geskrik dat sy weggehardloop het.

Die bron het gesê die man wou glo weer die polisievrou aanrand, maar ’n ander inspekteur het die tweede aanval afgeweer.

Die bron het gesê die polisieman gaan ook departementeel aangekla word oor sy optrede.

Dié betrokke polisievrou wou by navraag geen kommentaar lewer nie.

Kapt. Thomas Mufamadi, polisiewoordvoerder, het gister gesê hy kry nie antwoorde van die woordvoerders by die onderskeie polisiekantore nie.

Hy kon dus nie die voorvalle bevestig nie, maar Beeld is in besit van die vier saaknommers.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2258813,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.