Wednesday, 23 January 2008

Polisievrou verkrag, met klippe doodgeslaan

Jan 23 2008 08:12:53:390AM - (SA)

Riëtte Olivier

Graaff-Reinet. – ’n Polisie-instrukteur en ma van twee is gisteroggend hier vermoedelik eers verkrag voordat sy wreed met klippe doodgeslaan is.

Dié historiese dorp se inwoners is geruk deur die aanval op sr.supt. Erika Heunis (36), ’n instrukteur by die polisie-akademie op die dorp.

Inwoners praat van drie aanvallers, maar die polisie het teen druktyd nog geweier om enige inligting oor die voorval bekend te maak.

Volgens ’n bron by die akademie het Heunis gisteroggend soos gebruiklik saam met polisiestudente gaan draf in Mountainrylaan, ’n bekende wandelroete buite die dorp.

Sy het soos gewoonlik verder gedraf toe die studente ná 2 km omgedraai het, waarna haar moordenaars haar vermoedelik ingewag het.

“Toe sy ná ’n ruk nie na die akademie teruggekeer het nie, het twee polisiebeamptes ondersoek ingestel,” het ’n bron, wat verkies om anoniem te bly, gesê.

Dié beamptes het haar halfnaakte lyk na wat verneem word onder ’n bos langs die grondpad gevind.

Forensiese deskundiges is gistermiddag uit Port Elizabeth na die misdaadtoneel gestuur om die saak te ondersoek.

Insp. Wena Theron, ’n polisiewoordvoerder, kon gister nie sê waarom ’n plaaslike span deskundiges nie self die toneel ondersoek het nie. “ ’n Volledige verklaring rakende die voorval sal môreoggend (vanoggend) uitgereik word,” is al wat sy gesê het.

Heunis se familie was gister nog te geskok om iets oor die voorval te sê. ’n Familievriend het net gesê hulle is uiters geskok en hartseer. “Ons is nog nie presies seker wat gebeur het nie, daarom wil ons liewer nie enige uitlatings maak nie,” het sy gesê.

Mnr. Kritzinger Mey, VF+-leier in die Oos-Kaap, het gister ook sy skok uitgespreek.

Volgens hom was mnr. Garth Heunis, Heunis se man, gister by ’n kursus in Johannesburg toe hy die nuus gekry het. Hy sou laat gistermiddag na Port Elizabeth gevlieg het, waarna hy met ’n helikopter na Graaff-Reinet geneem sou word.

Mnr. Dave Mugglestone, hoof van die Hoërskool Union waar Monique (12) en Chanzelle (13), Heunis se twee dogters, skoolgaan, het gister gesê hy het hoendervleis gekry toe hy van die moord gehoor het.

“Ons is verslae. Haar dood is nie net ’n verlies vir die twee kinders nie, maar ook vir die hele gemeenskap.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2256656,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.