Friday, 18 January 2008

Rower verdrink in swembad nadat hy vrou (21) vasbind

Die swembad waarin 'n gewapende rower gister verdrink het. Die polisie het vroeër die lyk uit die water gehaal. Foto: Alan Murdoch

Jan 18 2008 12:40:52:987AM - (SA)

Annelene Moses

’n Pa van Bapsfontein aan die Oos-Rand kon gister nie sy oë glo nie toe hy een van die rowers wat kort tevore op hom geskiet het, dood op die bodem van sy swembad gesien lê het.

Die vier gewapende rowers het kort voor dit sy 21-jarige dogter vasgebind en woes op hom geskiet.

Mnr. Tony Coutinho het gesê dié rower het moontlik in sy struweling om uit die water te kom, twee skote afgevuur.

Twee patroondoppies is later uit die water gehaal.

“Ek vermoed dat hy, in sy haas om weg te kom, sy balans verloor en ingetuimel het. Ek voel glad nie jammer vir hom nie; ek dink dít was God se werk.”

Die gesin se nagmerrie het kort ná middernag begin toe hul dogter, Linda, van ’n ete-afspraak tuisgekom het.

Sy het met haar ma, Irene, se Mercedes-Benz by die hek ingery en dit gesluit. Sy moes eers ’n motor by die motorhuis uittrek om die ander motor te parkeer.

“Ek het die Corsa laat luier en die Mercedes-Benz ingetrek. Ek het net die motor afgeskakel toe die mans skielik aan die venster begin hamer.

“Ek het so groot geskrik dat ek net begin skree het.”

Die skurke het die deur oopgemaak en Linda op haar knieë laat afsak.

“Die twee jonger ouens se angstigheid het my absoluut kalm gemaak. Die paniek was heeltemal weg en ek het saamgewerk.”

Een van die rowers het haar juweliersware afgehaal en ’n los bandjie van haar toppie afgeruk waarmee hy haar hande agter haar rug vasgemaak het.

Twee van sy makkers het in die Corsa geklim en na die hek gery, terwyl die ander probeer het om die Mercedes-Benz aan die gang te kry.

Die geraas het Coutinho wakker gemaak. “Ek het by my kamervenster, wat reg bo die garage is, uitgekyk en gesien hoe die Corsa vinnig na die hek beweeg. Ek het op hulle geskree en twee skote is op my gevuur.”

Hy het met sy eie vuurwapen na die voordeur gehardloop, dit halfpad oopgehou en teruggevuur.

Linda, wat nog in die motorhuis op die grond gelê het, het die skote gehoor en die ergste gevrees.

“Ek het geweet ek moet hier uitkom omdat ek in die kruisvuur kan beland óf as gyselaar aangehou kan word. Ek het opgestaan en my ma het my by die huis ingelaat.”

Haar pa se dapper skietgeveg het die rowers op die vlug laat slaan sonder enige van die twee motors. Die veiligheidsmaatskappy se gewapende-reaksie-eenheid en die polisie was vinnig op die toneel.

Coutinho, sy seun, Michael, en ’n veiligheidswag het op die erf na Linda se huissleutels begin soek. “Ek wou dit eers nie glo nie, maar wragtie, daar het hy op die bodem gelê, nogal met ’n Springbok-rugbytrui aan.”

Linda het gesê sy het net gedink: “Ag shame.” “So bang soos ek was, dink ek nie dit was sy plan om my seer te maak nie. Die manier hoe hy dood is, is nogal erg. Ek wonder nogal wat hom tot sy dade gedryf het.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2253985,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.