Monday, 21 January 2008

Rowers oorval vrou, wurg haar

Jan 20 2008 07:43:26:883PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Jong vrou van Môregloed in Pretoria moes gisteroggend pleit vir haar lewe toe twee inbrekers haar byna in haar bed doodgewurg en haar daarna ’n uur lank geterroriseer het.

Me. Elsa Linnenkamp (24) van die Mantova-veiligheidskompleks se aanvallers het omstreeks 04:00 ’n kamervenster in haar huis se diefwering oopgebuig en haar in haar bed verras.

“Twee het in my kamer gekom en die een het dadelik begin om my te wurg.

“Dit was so erg ek het gedink ek gaan sterf. Ek het terugba­klei, maar later kon ek nie meer nie.

“Ek het gesê hulle moet my nie seermaak nie en het hulle beloof om saam te werk,” het ’n steeds geskokte Linnenkamp gisteroggend gesê.

Die verdagtes het haar hande met haar haardroër se koord vasgebind, stukke geskeurde lap in haar mond gedruk en om haar nek en kop gedraai.

“Hulle het my hard rondgepluk en ek moes die heeltyd saam met hulle deur die huis loop. Ek het net bly bid.”

Die verdagtes het haar televisie, rekenaar, radio, DVD-speler, skoene, selfone, horlosie, juwele en verskeie ander waardevolle besittings in haar motor gelaai.

“Hulle wou my paspoort ook neem, maar ek het vir hulle gesê daar is niks wat hulle daarmee kan doen nie en toe los hulle dit.”

Sy het gesê haar aanvallers het Afrikaans gepraat en die een was baie aggressief.

“Hulle wou weet hoekom die hek nie werk nie. Die elektriese heining om die kompleks was ook buite werking. Ons het vroeër die aand ’n kragonderbreking gehad en daar was iemand wat die hek probeer regmaak het, maar later het hy dit toegetrek en geloop.”

Linnenkamp het gesê voordat die verdagtes gevlug het, het hulle ook haar mond en voete vasgebind. Hulle het die lappe om haar kop en keel styfgetrek en haar net daar op haar kamervloer gelos.

“Toe hulle weg is, kon ek my hande loswikkel en hulp ontbied.”

Me. Annetjie Linnenkamp het gesê sy vermoed haar dogter se aanvallers het op die brandslang langs die kompleks se muur getrap om oor die elektriese heining te spring.

“Ek het aan die brandslang gevat en tot my verbasing dit net so uit die grond getrek. Dit was nooit gekoppel nie en dit beteken sou daar ’n brand uitbreek dit nutteloos gewees het,” het sy gesê.

Kapt. Prince Mokhabela, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die voorval.

Hy het gesê me. Linnenkamp se motor is ’n uur en ’n half ná die voorval in Mamelodi in die ooste van Pretoria opgespoor.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2255381,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.