Wednesday, 30 January 2008

Rowers skiet pa by seun se sokkerklub

Jan 29 2008 09:26:08:687PM - (SA)

Annelene Moses

Die gewapende mans wat eergisteraand ’n bekende sakeman koelbloedig by sy seun se sokkeroefening in Balfourpark, Johannesburg, doodgeskiet het, het heel moontlik gedink hul slagoffer was besig om die polisie op sy selfoon te bel omdat hulle kort tevore ’n vrou in dieselfde parkeerterrein probeer beroof het.

Mnr. Sheldon Cohen (47), voormalige uitvoerende hoof van die elektroniese toestelgroep Amalgamated Appliances (Amaps), was egter in gesprek met sy pa, Jack, die nie-uitvoerende voorsitter van dié groep.

Volgens kapt. Phillip Maganedisa, polisiewoordvoerder, het drie mans oomblikke voordat hulle Cohen doodgeskiet het, ’n ander ouer wat ook by die oefening was, van haar selfoon probeer beroof.

Me. Jos Miller, wat vir haar seun Dean gewag het, het gisteraand aan Beeld vertel dat een van die drie rowers haar motordeur probeer oopruk het, en haar beveel het om haar selfoon vir hom te gee.

“Ek het begin skree nadat hy (die rower) my geslaan het en het toe net ’n harde ‘pop-geluid’ gehoor,” het Miller gesê. Sy het dadelik uit die motor gespring en na die ander ouers gehardloop waar hulle die oefening dopgehou het.

Maganedisa het gesê die aanvallers het glo in hul wegkompoging Cohen drie motors verder in sy blou Toyota Rav4 op sy selfoon sien praat.

Hulle het ’n skoot afgevuur en Cohen is in die nek getref. Hy het op die toneel gesterf.

“Sy vensters was toe, die radio het glo in sy voertuig gespeel, en hy het moontlik nie eens die vrou hoor skree nie,” het Maganedisa gesê.

Mnr. John Killas, nog ’n ouer wat by die oefening was, het gesê dat hulle eers besef het wat aangaan toe Cohen sr. in ’n paniek by die klub opdaag.

“Jack het vertel dat hy besig was om met Sheldon oor die foon te praat, toe hy skielik sê iets ergs gebeur, en die foon daarna doodgegaan het,” het Killas gesê.

José Castel, een van Cohen se seun, Noah (17), se spanmaats by die Balfour Alexandra-sokkerklub, het eerste op die bebloede lyk in die motor afgekom. “Ek het die oom aan sy skouer getik en gevra of hy my kan hoor, maar daar was geen reaksie nie. Sy hele hemp was vol bloed,” het José aan Beeld gesê nadat beraders die spelers en hul ouers gisteraand toegespreek het.

Mnr. Mark Abro, direkteur van die klub en afrigter van die o.19 span wat die betrokke aand geoefen het, het gesê Cohen was altyd by sy seun se oefening. “Hy was ’n fantastiese mens met ’n groot hart en al te vrygewig. Ek kan nie aan ’n meer verkeerde mens dink met wie dít kon gebeur het nie.”

Cohen was ook voorheen voorsitter van die direksie van verskillende maatskappye en trustee van verskeie liefdadigheidsorganisasies.

Hy het ’n MBA aan Harvard-universiteit, VSA, verwerf.

Cohen sal vandag op sy 48ste verjaardag om 12:00 by die Wespark-begraafplaas te ruste gelê word. Die boewe het met leë hande gevlug.

Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, insp. George Muir by 0 011 483 4631 of 072 541 2683 bel.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2261013,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.