Thursday, 17 January 2008

Skielik-skieter: 'Iets het in my gebreek'

Jan 17 2008 09:01:08:020AM - (SA)

Carla Mouton en Leané du Plessis

‘Ma, dit het gebreek in my,” het die jong man wat in hegtenis is weens die skietdood van drie mense in ’n plakkerskamp in Noordwes, ná die tyd aan sy ma gesê.

Mnr. Johan Nel (18) het volgens sy ma, mev. Corrie Nel, “ge-snap”. “As jy hom ken, sou jy geweet het hy het nie rasioneel opgetree nie,” het sy gisteraand gesê.

Sy het vertel hy is in 2003 op 14-jarige leeftyd deur ’n “swart man met ’n sekel aangeval”, waarna hy op die man geskiet het; dat hy sewe jaar gelede getraumatiseer is deur ’n plaasaanval waarin sy broer was; dat hy verlede Sondag gehoor het “inbrekers het vermoedelik gas gepomp in die kamer van sy goeie vriend se vrou en haar drie weke oue baba”; en dat hy Maandagoggend van nóg ’n plaasaanval in hul omgewing gehoor het.

“Ek kon nog nie regtig met hom praat ná die voorval nie, maar Johan het gesê: ‘Ma, dit het gebreek in my.’ ”

Nel is Dinsdagmiddag in hegtenis geneem weens die skietdood Maandagmiddag van drie inwoners van die Skielik-plakkerskamp sowat 3 km van hul huis op die plaas Tweefontein.

Hy verskyn vandag in die hof in Swartruggens op aanklagte van moord en poging tot moord.

Sewe mense is in die voorval gewond, van wie drie ernstig.

Onder die drie wat dood is, is ’n babameisie van drie maande en ’n tienjarige seun. Hulle is met ’n .303-geweer geskiet.

Supt. Louis Jacobs, polisiewoordvoerder, het gister gesê Nel is in 2003 skuldig bevind aan die nalatige afvuur van ’n wapen ná die skietvoorval met die man wat gras gesny het.

Die vonnisoplegging is destyds uitgestel tot vanjaar as Nel hom intussen weer aan ’n misdryf sou skuldig maak.

Volgens mev. Nel het haar seun destyds “net begin skote aftrek om homself te beskerm”.

Sy het haarself gister verwyt dat hulle nie destyds berading vir Johan gekry het nie, want ná dié aanval en toe sy broer in 2001 in hul plaashuis aangeval is, “was hy al histeries” .

Sewe gewapende mans het Heinrich (22) – Nel se ouer broer – en Nel (toe 11) sewe jaar gelede op ’n Sondagoggend in hul plaashuis aangeval. Die res van sy familie was in die kerk.

Heinrich (toe 15) het met die aanvallers baklei, sy pa se rewolwer in die hande gekry en hulle verwilder. Hulle het aan Heinrich gesê hulle wag vir die hele gesin en gaan almal doodmaak.

Daarna was hul planne glo om nog ’n boer in die omgewing aan te val, het Heinrich destyds aan Beeld gesê.

“Ons was maar almal ontsteld daaroor,” het Heinrich gister gesê.

Volgens mev. Nel het Johan “fisiek siek geword” nadat hy die nuus gekry het van sy vriend se vrou en baba. “Gelukkig is hulle darem nie dood (van die gas) nie. Ek het toe gedink hy het maaggriep gehad, maar nou weet ek van beter.”

'n Inwoner van Swartruggens het gister gesê daar is ’n gevoel in die dorp “dat ’n ding gemaak word oor die feit dat ons ’n rassistiese gemeenskap is, terwyl hier geen rassisme is nie. Inteendeel, die boere het die polisie hul volle samewerking gegee deur te help dat hy aangekeer word.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2253367,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.