Monday, 28 January 2008

Swanger vrou veg terug

"Hulle het ons dopgehou". Me. Belinda Lentz van Menlopark in Pretoria vertel gister van die gewapende rooftog by hul huis waarin 'n swanger vriendin byna deur een van drie rowers verkrag is.Foto: Herman Verwey

Jan 27 2008 11:48:34:360PM - (SA)

Eagan Williamson

’N Swanger vrou het besluit ’n gewapende rower die stryd aangesê toe hy haar tydens ’n rooftog in Menlopark, Pretoria, ten aanskoue van haar verloofde en ander gaste probeer verkrag het.

Drie mans gewapen met ’n vuurwapen, knopkierie en staalpyp het eergisteraand by die huis van mnr. Dean Lentz (45) en sy vrou, Belinda (45), toegesak terwyl ’n groep mense besig was met aandete.

Dit is die vierde keer in 20 maande dat die Lentz-egpaar onder misdadigers deurloop.

Mnr. André Griesel (25), ’n polisiebeampte van Hartbeespoort en familielid van Lentz, en sy agt maande swanger verloofde, me. Cherezé Ehlers (21), het daar gekuier.

Drie minderjariges, kinders van die Lentz-egpaar se vriende, het saam gekuier toe die voorval gebeur het.

’n Kalm me. Lentz het gister vertel hoe sy nog besig was om nagereg te bedien toe die drie mans al gillend by ’n agterdeur van die televisie-en-eetkamer instorm.

“Ons vermoed hulle moes oor die bure se muur geklim en vir ’n rukkie in ons tuin geskuil het, omdat die kinders nog voor aandete geswem het.

“Hulle moes ons dopgehou het.”

Twee rowers het die mans met hul wapens oor die kop geslaan en Lentz het sy bewussyn verloor.

Daarna het ’n rower sy vrou ook oor die kop geslaan en begin gil dat hulle skootrekenaars, geld en selfone wil hê.

’n Rower het Griesel se vuurwapen by hom afgeneem en, steeds gillend, die huis begin plunder en selfs van die kinders selfone geëis.

Mee. Lentz en Ehlers het onder die tafel gelê toe een van die rowers vir Ehlers begin pols vir geld en goedere.

“Ek het daar op die mat op my maag gelê en die meeste vir my ongebore kind gevrees,” het Ehlers vertel.

“Toe een van die rowers my romp probeer oplig en ek hom gesmeek het om asseblief niks aan my te doen nie, het hy aangehou dreig en my vasgedruk.”

Die rower het daarin geslaag om haar onderklere af te trek.

“Dis tóé dat ek besluit het om terug te baklei en só te probeer om hom af te weer.”

Hy het tou opgegooi en met sy plundertog saam met sy makkers voortgegaan.

“Ek het al my juwele afgehaal en vir hulle aangebied, maar hulle het slegs my oorbelle en verloofring gevat.”

Die rowers het almal later vasgebind en beveel om “niks te probeer nie”, waarna hulle met selfone, elektroniese toerusting en juwele gevlug het.

Een van die rowers het Ehlers se onderklere opgetrek en haar romp reggetrek voordat hulle gevlug het.

“Ons is net dankbaar dat die polisie so vinnig opgetree het en hoop werklik dat daar nou iets aan die land se misdaad gedoen sal word,” het Lentz gesê.

Ehlers is na ’n hospitaal gehaas uit vrees dat sy in kraam kon gaan weens die trauma en is gisteroggend ontslaan.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2259504,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.