Wednesday, 30 January 2008

Verkeersman spog in polisiekantoor dat hy sal uitkom ná hy glo aanrand

Mnr. Henk de Jager is die naweek glo deur 'n polisieman in Vryburg aangerand.

Jan 29 2008 09:26:21:810PM - (SA)

Nicolize van der Walt

Vryburg. – “Kom, ek donner jou dood.”

Só het ’n verkeersman van die Naledi-verkeersdepartement glo aan ’n motoris gesê wat gekla het omdat hy (die verkeersman) in die middel van die dorp se hoofstraat geparkeer het. Harde woorde het glo tussen die twee geval.

Mnr. Henk de Jager (32) en sy vrou, Elmarie, van die plaas Leliefontein was Saterdag dorp toe vir sake en wou iets kry om te eet.

Op pad na die KFC in die hoofstraat het ’n verkeersman in sy motor voor dié eetplek se deurrit stilgehou.

“Ek het vir hom toeter gedruk en hy het uitgeklim en vir my ’n obsene teken gewys. Ons het tot langs hom gery en ek het hom ’n paar harde woorde toegevoeg,” sê mnr. De Jager.

Die verkeersman het De Jager glo toe met die dood gedreig.

“Ek het uitgeklim en na hom geloop – hy het my voor die bors gestamp. Met dié het ’n persoon van die kant gekom en my geslaan. Ek het gestruikel en die beampte het my hande agter my rug vasgehou terwyl die ander persoon my geslaan het,’’ vertel hy.

’n Groot groep omstanders het glo saamgedrom en die slaner en die verkeersman toegejuig en aangemoedig.

“Ek het net gehoor hoe hulle skree. Ek het toe regtig vir my lewe gevrees,” sê De Jager.

Mnr. Gerrit van Straaten en sy broer, Japie, het die lawaai van die oorkant van die pad gehoor en De Jager gaan help. Gerrit is ook toegetakel. Japie het ook tussenbeide getree en saam kon die drie hul weg na De Jager se motor vind.

De Jager en die Van Straaten-broers is polisiestasie toe. Kort daarna het die verkeersman ook opgedaag.

“Hy het vir ons gestaan en lag en gespog dat sy broer hom vinnig hier sal uitkry,” vertel Gerrit.

Die padvalk het ook glo die ooggetuies by die polisiestasie uitgetart en hulle gedreig dat hy hulle “sal kry”.

’n Beeld-leser wat by die polisiestasie was, vertel die “glimlaggende verkeersman” het met polisiebeamptes staan en skerts terwyl ’n erg bebloede De Jager daar naby sy verklaring afgelê het.

“Kort daarna het nog ’n verkeersman by die polisiestasie opgedaag en op van die polisiemanne daar begin skel,’’ vertel dié Beeld-leser, wat anoniem wil bly.

De Jager, sy erg geskokte vrou en die Van Straaten-broers is daarna hospitaal toe vir behandeling. “Ek het veral erge gesigbeserings opgedoen,’’ sê De Jager.

Mnr. David Sikhomba, die plaaslike verkeershoof, het teen druktyd nog nie op Beeld se boodskappe reageer nie.

Die polisie het bevestig dat ’n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer teen die verkeersman ondersoek word.

Laasgenoemde het op sy beurt ’n klag van crimen injuria teen De Jager ingedien.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2261001,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.