Wednesday, 30 January 2008

Verkrag ná moord-trauma

Die wurgmerke aan Louw se nek.Foto: Carla Mouton

Jan 29 2008 09:26:14:840PM - (SA)

Carla Mouton

Skaars vier maande nadat sy op haar vermoorde verloofde se lyk afgekom het, is ’n jong vrou in haar woonstel in Lydenburg in Mpumalanga aangerand en verkrag.

Me. Mariska Louw (22) sê ’n man het haar Vrydagaand in haar woonstel in Lydenburg ingewag toe sy van ’n partytjie teruggekom het.

Louw het gesê Beeld mag haar naam publiseer, maar wil nie dat ’n gesigfoto van haar in die koerant verskyn nie omdat sy nie op straat herken wil word nie. Sy het verlede maand van Centurion na Lydenburg getrek om ’n nuwe begin te maak ná die trauma waardeur sy verlede jaar was.

Louw se motor is in September verlede jaar gekaap. Tien dae later het haar verloofde, mnr. Werner van Jaarsveldt, mense met die motor sien ry. Hy het die polisie gebel en die motor agternagesit, maar is deur vermoedelik die kapers doodgeskiet. Louw het op sy lyk in Midrand afgekom. Hulle sou in November getrou het.

Oor die verkragting sê sy: “Ek het so 00:20 huis toe gegaan. Die voordeur was gesluit toe ek daar kom. Ek het dit weer gesluit en ’n asbak saam met my boontoe (die eerste vloer van die duplekswoonstel) gevat. Toe ek die badkamerdeur oopmaak, het ’n man kaal daar gestaan. Hy het my aan my keel gegryp.”

Louw, wat talle skraap-, byt- en kneusplekke op haar lyf het, sê sy het hom met die asbak oor die kop geslaan. Ná ’n hewige bakleiery het die man haar aan die hare badkamer toe gesleep en haar parfuumbottel teen die bad se kant stukkend geslaan.

“Hy het gesê: ‘Shut up or I will kill you.’ Hy het my klere wat hy uit die wasgoedmandjie gegooi het, geskeur en my mond, bene en hande vasgedraai.”

Nadat hy haar op haar bed verkrag het, het hy haar kop ook met geskeurde klere toegedraai en haar aan die bad se pyp vasgemaak. “Ek het gehoor hy sluit my kamer se deur. Ek kon nie asem kry nie.”

Louw het haar later losgewoel en by die venster om hulp gaan roep, net om te sien hoe die man uit haar Toyota Yaris klim en weghardloop. Uit vrees dat hy sou terugkom, was sy te bang om weer te skree. Die man is met haar selfoon weg.

Sy het in haar kamer gewag tot sy later die oggend (Saterdag) werkers op die perseel se selfoon geleen het om haar ouers en ’n vriendin met ’n spaarsleutel vir haar woonstel te bel.

Mnr. Pieter Louw, haar pa, sê wat hom die meeste pla is dat die polisie nie opgedaag het nie toe die bure hulle Vrydagaand gebel het tydens die voorval. Hulle het sy dogter se geskreeu gehoor.

“Die bure is later self na die polisiestasie toe en het hulle gaan haal. Die polisie het toe net op die woonstel gelig en rondom gestap en toe weer gery. Die verkragter was toe nog in die woonstel.

“My kind kon dood gewees het en die polisie kon haar gered het,” het Louw gesê. Sy dogter kry antiretrovirale behandeling.

Supt. Abie Khoabane, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het die verkrag- en aanrandingsaak bevestig. Volgens hom het die polisie geen klagte van swak dienslewering ontvang nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2261004,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.