Thursday, 3 January 2008

Vrede erger as oorlog

Veilig én wyser ná hul nagmerrie-ondervinding: Mnr. Francois van Deventer en sy vrou, Tina, by hul kinders Ester (6), Andreas (18 maande), Mareina (4), Franco (3), Gideon (8) en Jannieta (een maand) op ouma Reina se skoot. Pieter (7) het by sy ouma gekuier toe die rooftog gebeur het. Foto: Deaan Vivier

Dec 18 2007 06:39:15:707PM - (SA)

"Ouens - en ek was self ook - is 'n bietjie naïef. Jy dink jy is veilig. Ek wil 'n bydrae lewer dat mense kan wakker word en nie dieselfde ding oorkom nie," skryf Francois van Deventer oor die nag van 13 Desember toe hy, sy vrou en ses van hul sewe kinders deur rowers oorval is.

Dit is ’n doodnormale nag soos enige ander nag. Jy slaap rustig in jou eie bed met jou vrou aan jou sy.

Jou kinders is nog klein en verkies om nie in hul eie bed te slaap nie, maar saam met jou in jou kamer. Dit is laat in die agternag.

Jy het net weer begin insluimer nadat jy toilet toe is.

Skielik word jy uit jou sluimering geruk. Jou vrou uiter bloedstollende gille. Jy sit regop. Jy maak jou oë oop. Jy kyk vas in ’n pistoolloop. Jy het pas deel geword van die misdaadstatistieke.

Jou nagmerrie dat jy in jou eie huis ’n gewapende rooftog meemaak, is bewaarheid.

Daar is drie wetters: ’n lange, die leier; ’n arrogante korte wat sy pistool op jou gerig hou; en ’n middelslag een. Twee van hulle het pistole en die derde ’n ellelange skroewedraaier.

Jy begin (stil) om te bid: dat die Here genadig sal wees en dat hulle jou, jou vrou en jou kinders nie enige leed sal aandoen nie. Jy steek onmiddellik jou hande in die lug. Jou vrou kalmeer en hou op skree.

Jy vra: “What do you want?”

“We want money,” sê die leier.

Jy vertel hulle waar die brandkluis is. Hulle hou hul wapens op jou gerig. Die leier deursoek jou kas op soek na die brandkluis.

Hy gooi al jou klere op die grond. Die middelslag een bind bloudraad om jou enkels.

Dieselfde word gedoen met jou polse agter jou rug.

Jou kinders word saam met jou op die bed gebondel. Hulle gooi ’n kombers oor jou gesig. Hulle deursoek die hele huis. Hulle gooi elke kas se inhoud uit op die grond.

Jy toets of jy nie die bloudraad om jou polse kan loswikkel nie. Die draad gee so ’n bietjie mee. Jy sal kan loskom as jy wil. Nou is die tyd om jou geleentheid af te wag om jou los te wikkel en terug te veg.

Die gedagtes maal deur jou kop: Gaan hulle ons doodmaak? Gaan hulle my vrou verkrag? Gaan hulle die kinders seermaak?

Genadig onthou jy nie op daardie oomblik van die vrou wie se vingers vroeër die week iewers anders in die land met ’n snoeiskêr afgeknip is nie.

Jy hou aan met stilgebed.

Hulle storm die kamer weer binne: “Come with us.” Jy wonder: Gaan hulle my nou teregstel? Hulle lei jou met vasgebinde polse na die badkamer en beveel jou om te lê: “Sleep!” skreeu die arrogante een.

Jy bid steeds. Jy toets weer die bloudraad om jou polse. Jy kan definitief loskom as jy moet. Jy wonder of dit die regte tyd is om nou iets te doen. Jy wik en weeg. Jy besef jy weet nie of hulle by jou vrou en kinders is nie. Jy weet nie of jy in hul (vuurwapen-) lope kan vasloop nie.

Dit sal ook dwaasheid wees om die badkamer se deur toe te druk en die badkamerkas daarvoor te stoot, die venster te breek en hulp te gaan soek en jou vrou aan hierdie wetters oor te laat.

Jy besluit die beste is om nog te wag en te bid. Sou hulle terugkom om jou te kom doodskiet voordat hulle vertrek, dán sal jy losruk en so hard terugbaklei as wat jy kan. Maar as hulle jou vrou en die kinders uitlos, sal jy niks doen totdat hulle hul ry gekry het nie.

Jy hoor hoe hulle die motor aanskakel en hard laat brom. Hulle kry egter nie hul ry nie. Die tyd gaan stadig verby. Jy bid steeds. Dan hoor jy hoe hulle die kombuisdeur toeslaan. Die motor ry uit. Jy ruk jouself so vinnig as moontlik los. Hardloop na die tussendeur in die gang en gooi die deur op grendel.

Jy soek die plek waar hulle ingekom het en kry die kinders se kamervenster wawyd oop met die diefwering afgebreek. Jy maak die venster toe. Nou sal hulle nie kan inkom sonder om ’n groot lawaai op te skop nie – en dan sal jy reg wees vir hulle.

Jy maak seker jou vrou en kinders is ongedeerd. Dank die Vader! Hulle makeer niks. Hulle het ook nie enige van die kinders ontvoer nie. Jy besluit om nie die polisie eerste te bel nie, maar heel eerste familie en vriende.

Ons familie laat weet die polisie.

Ons is aangenaam verras toe die polisie binne vyf minute by die huis stop.

Daar is baie om voor dankbaar te wees:

Hulle het geen belangstelling getoon in my vrou se Hollandse paspoort nie.

Hulle het albei brandkluise leeg gemaak, maar die paspoort, my ID en die tjekboeke laat staan;

Hulle het ons geen leed aangedoen nie;

Hulle het die tien goue Krugerrande wat in die brandkluis was, net so neergesmyt;

Hulle het slegs een van die twee motors gesteel. Ons het dié motor slegs drie weke gehad – dit was die plaasvervanger van ons motor wat op 9 November gesteel is;

My beursie met kredietkaarte, rybewys, mediesefondskaartjie, ensovoorts is nie gesteel nie. Selfs die R100 wat daarin was, is nog daar;

Die skootrekenaar met ’n klomp belangrike dokumente en baie foto’s daarop het agter in die motor gelê wat hulle nie gesteel het nie;

Hulle het nie al die sleutels gesteel nie, dus hoef die oorblywende motor nie nuwe slotte te kry nie;

Predikante het ons kom besoek, vertroos en bemoedig;

Vriende hul deure vir ons oopgegooi en vir ons kos gemaak; en

Bure het ons kom ondersteun.

Dink ’n mens na oor die voorval, kom die woorde van kol. Jan Breytenbach by jou op nadat die Nasionale Party die regering oorgegee het en die bosoorlog beëindig is: “Ek is bevrees die vrede gaan erger wees as die oorlog . . .”

Ons kry egter vertroosting saam met die Psalm-digter in Ps. 84:6:

’n Son en skild is onse Heer;

Hy sal genade gee en eer,

want Hy word nooit Sy woord ontrou nie:

Hy sal aan almal wat opreg

Hom dien en wandel in sy weg,

die goeie nimmermeer onthou nie.

Welsalig, Heer, wie op U bou,

aan U geheel hom toevertrou.

Francois van Deventer (39) is ’n stelselingenieur by Vodacom. Hy en sy vrou, Tina (31), en hul kinders, Gideon (8), Pieter (7), Ester (6), Mareina (4), Franco (3), Andreas (18 maande) en Jannieta (een maand oud), woon in Pretoria.

Almal behalwe Pieter was tuis toe die gesin oorval is.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/In-Diepte/0,,3-67_2240699,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.