Monday, 28 January 2008

Vrou dood toe rowers bejaardes tuis oorval

Mnr. Fanie Basson (66), eergisteroggend vroeg saam met sy vrou, Dixie, wat deur rowers in hul huis in Kensington in Johannesburg oorval en aangerand is. Me. Basson is dood. Foto: Mario van de Wall

Jan 28 2008 12:08:18:770AM - (SA)

Francois du Plessis

"Sy het nog gesoebat dat hulle haar asseblief net uitlos en vat wat ook al hulle wil hê, maar hulle het aangehou skreeu en slaan totdat als in die huis later net stil geraak het”.

Só het ’n hartseer mnr. Fanie Basson (66) die laaste oomblikke beskryf toe vier rowers hom en sy vrou, Dixie (77), eergisteroggend vroeg in hul huis oorrompel en gemartel het totdat sy uiteindelik in ’n bloedbad in die bejaarde egpaar se slaapkamer gesterf het.

Volgens Basson wil dit voorkom asof die rowers met net twee horlosies, sy selfoon en “ ’n paar rand” gevlug het nadat hulle eers van kamer na kamer in die oënskynlike goed beveiligde huis in Highlandstraat in Kensington, Johannesburg, gegaan en dit “omgekeer” het.

Hy het gister aan Beeld vertel dat hy en sy vrou Vrydagaand eers laat bed toe is omdat hulle saam die eendag-krieketwedstryd tussen Suid-Afrika en die Wes-Indiese Eilande op televisie gekyk het.

“Dit is ’n ding wat my altyd sal bybly; om wakker te skrik en te sien hoe staan hulle om jóú bed met ’n koevoet en messe in hul hande,” het Basson vertel.

Kapt. Cheryl Engelbrecht, polisiewoordvoerder, het gesê die rowers het deur ’n venster toegang tot die huis gekry.

Hulle het die Bassons gedwing om op hul maag op die bed te lê en het hul hande en voete met skoenveters vasgebind en stukke materiaal in hul mond geprop.

Mnr. Basson is verskeie kere tydens dié struweling met die rowers met ’n mes in sy linkerhand en -arm gesteek. Hy is ook herhaaldelik met die koevoet oor sy liggaam geslaan voordat die rowers kussings oor sy kop gegooi het sodat hy nie kan sien wat gebeur nie.

“Hulle het geskreeu en gevloek: ‘Bly stil! Bly stil! Waar is die kluis?’ Ek het aan hulle verduidelik ons het nie ’n kluis nie en gehoor hoe hulle na elke vertrek gaan en dit omkeer,” het Basson verduidelik.

Dit het uiteindelik stil geraak in die huis en ’n bebloede mnr. Basson het dit reggekry om van die bed af te rol.

“Dit is tóé dat ek my vrou op die mat sien lê het. Ek het na haar geroep maar sy het nie geantwoord nie. Daar was orals net bloed in die kamer,” het Basson afgemete vertel.

Volgens mnr. Nick Dollman, Netcare 911-woordvoerder, is me. Basson deur paramedici op die toneel dood verklaar.

“Die presiese oorsaak van haar dood is nog nie bekend nie, maar daar was tekens van ’n struweling met die rowers,” het Dollman gesê.

Mnr. Basson is na die Bedford Gardens-kliniek gehaas waar hy sowat 33 steke gekry het om sy snywonde te heg. Hy is eergisteraand reeds ontslaan.

Die egpaar was veral bekend in kerkkringe en was tot omtrent ’n jaar gelede nog in die kerkraad van die NG gemeente Kensington, berig Sarie van Niekerk.

Ds. Gert Els, voormalige predikant van dié gemeente wat in Doebai in die Verenigde Arabiese Emirate bedien, het gister gesê “dit is ongelooflik en baie, baie tragies”.

“Die twee oumense was sulke saggeaarde en wonderlike mense.

“Tannie Dixie was hierdie klein mensie wat so maklik oorrompel kon word, hoekom haar so wreedaardig doodmaak?”

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2259595,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.