Monday, 7 January 2008

Wapen weier 3 keer: bekende se seun leef

Rudo Kemp (18) by die koeëlgate in sy ouerhuis se muur wat veroorsaak is deur rowers wat hom misgeskiet het.Foto: Johann Hattingh

Jan 06 2008 11:20:06:153PM - (SA)

Philip de Bruin

Drie keer het ’n rower ’n re­ wolwer 30 cm van Rudo Kemp van Northcliff, Johannesburg, se kop afgetrek – en drie keer het die rewolwer net “gekliek”.

Die vierde en vyfde skoot het wel afgegaan, maar albei het hom gemis.

Die naweek het Rudo (18), seun van die landwyd bekende sielkundige dr. Eugene Kemp, die eerste keer na buite gepraat oor die voorval verlede Sondag in die vroeë oggendure toe hy die twee rowers in sy ouerhuis betrap het.

Die twee rowers het eers ’n kilogram Weense worsies uit die Kemps se yskas gehaal, dit in die mikrogolf warm gemaak en geëet voordat hulle met hul strooptog begin het.

Dr. Kemp skryf maandeliks rubrieke vir die tydskrifte Finesse en Manwees. Hy lewer ook elke Saterdagoggend ’n praatjie op RSG in Derich Gardner se ontbytprogram.

Die egpaar Kemp het vir die Kersvakansie Stilbaai toe gegaan en Rudo het die huis opgepas. Die Saterdagaand was hy na ’n vriend se vleisbraaiery en hy het omstreeks eenuur die Sondagoggend by sy ouerhuis gestop.

“Toe ek die deur tussen die garage en die huis oopmaak, het ek besef daar is fout. Ligte wat af was, was aan en van ons goed was weg. Ek het met die trap opgehardloop, maar toe eers besef dat die rowers moontlik nog in die huis was omdat van ons goed nog op die boonste verdieping bymekaar gestaan het, reg om weggedra te word.

“Ek het afgehardloop en my pa se rewolwer in die kamer gaan haal. Ek het dit in my broeksak gesit en is terug met die trap op. Heel bo het die een rower agter ’n muurtjie geskuil.

Hy het sy rewolwer vlak by my kop gehou, seker so 30 cm ver, en die sneller drie keer getrek. Die skote het nie afgegaan nie.

“Ek het niks gedink nie – net probeer oorleef. Ek het gang af begin hardloop toe hy die vierde skoot trek. Dit het afgegaan en die muur getref.

“Intussen het die tweede rower met ’n pistool ook op my geskiet. Dit het ook die muur getref.

“Ek het ’n kamer ingehardloop, die deur gesluit en hulle buite gehoor.

“Ek het twee skote deur die toe deur afgevuur. Ek vermoed hulle het toe gevlug. Ek het my selfoon gebruik om ons bure en die polisie te bel.

“Dit was die langste minute van my lewe in daardie kamer totdat die polisie opgedaag het. Ek het daar gesit en sweet en bewe. Toe almal teen vieruur die oggend weg is en ek in die bed klim, het die drie skote na my kop die eerste keer deur my gedagtes gegaan.

“Ek het vir die eerste keer besef hoe naby ek aan my dood was.”

Dr. Kemp het dadelik die vakansie onderbreek en teruggekeer.

Die rowers het met juwele en geld weggekom. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2247262,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.