Friday, 18 January 2008

Woede oor Johan Nel se saak in Afrikaans is

Johan Nel (18) se ouers, mnr. Hennie en me. Corrie Nel, gister op hul plaas, Tweefontein.Foto: Leon Botha

Jan 18 2008 12:41:26:063AM - (SA)

Alta Snyman en Julian Rademeyer

Swartruggens. – Ontsteltenis het gister hier geheers oor die taal waarin die hofverrigtinge plaasgevind het toe Johan Nel (18) in die landdroshof verskyn het.

Baie van die familielede van die slagoffers wat in die skietery in die Skielik-plakkerskamp dood is, kon nie Afrikaans verstaan nie.

Mnr. Patrick Chauke, ANC-parlementslid, het buite die hof luidkeels sy ontsteltenis daaroor laat blyk.

“Ons beveg rassisme al die jare. Geen van die wit inwoners is hier om hul eensgesindheid met die naasbestaandes te wys nie. Ons het met rassisme te doen.”

Mnr. Chris Hattingh, DA-leier in Noordwes, was ook by die hof en het Chauke se uitsprake veroordeel.

“Dit is onaanvaarbaar. Dit is generies van die ANC-leiers om op mense se rou emosie te steun.

“Dit is haatspraak pleks van om die mense te kalmeer. Talle van die mense wat hier betoog, het breë glimlagte, ek sien geen hartseer nie. Die voorval word uitgebuit.”

Hy verwag van politieke leiers om verantwoordelik op te tree en dit as ’n geïsoleerde voorval te sien en mense tot kalmte te maan, het Hattingh gesê.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, het in ’n verklaring “die speel van die rassekaart” veroordeel.

“Feitlik alle plaasmoorde word deur swartes op wittes gepleeg. Indien die wit boeregemeenskap ná elke plaasmoord opgesweep sou word asof dit ’n rassistiese moord is, sal Suid-Afrika in ’n bloedbad verander.

“Sulke uitsprake vir populariteit is totaal onaanvaarbaar.”

Van die boere wat gister buite die hof was, het dié sentiment gedeel.

Voorvalle waar plase “aangeval word en mense vermoor, gemartel en beseer is deur aanvallers wat rassistiese opmerkings maak, word nooit as rassisties beskryf nie”, het een gesê. Volgens mnr. Wilhelm Rouché, ’n sakeman op die dorp, en mnr. Ben Marais, voorsitter van die Transvaalse Landbou-unie (TLU) in Noordwes, is 12 boere sedert 1994 in dié omgewing op hul plase vermoor. Rouché se pa was een van die slagoffers.

Marais en Rouché sê hulle het eergister vergader met ’n verteenwoordiger van die Menseregtekommissie en het ’n klag van haatspraak ingedien teen die burgemeester omdat sy onder meer die Skielik-aanval as rassisties bestempel het.

Marais het gister buite die hof ook na die martelmoord op mnr. Frans Pieterse in 2006 verwys.

Pieterse se suster, mev. Magda Oberholzer, was ook gister by die hof.

Sy het kom antwoorde soek oor hoe die ondersoek na die moord op haar broer vorder aangesien hulle niks hoor nie.

“Ons vat dit dag vir dag, maar doen die polisie ooit iets om hulle aan te keer?”

Hoewel aanvanklik na drie verdagtes gesoek is en twee mans in hegtenis geneem is, moes een vrygelaat word nadat hy nie positief met die saak verbind kon word nie.

Mnr. Colin Uys, staatsaanklaer, het by navraag aan Beeld gesê die ander verdagte word steeds aangehou en is verhoorafwagtend. Die uitslae van DNS-toetse wat aangevra is, is 18 maande later steeds nie beskikbaar nie.

Me. Florence Manamela, ’n raadslid van die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit, sê die gemeenskap moet die voorval veroordeel, maar nie Nel se ouers daarvoor blameer nie.

“Ons moenie die wit gemeenskap verkwalik vir een mens se optrede nie.”

Sy wil ná die massabegrafnis wat op 26 Januarie vir die slagoffers gehou word ’n gemeenskapsvergadering hou met die boodskap dat swart en wit moet hande vat en saamstaan.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2253963,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.