Tuesday, 19 February 2008

20 j. vir moord op technikon-direkteur

Feb 18 2008 10:17:39:503PM - (SA)

Jeanne-Marié Versluis

’n Duimafdruk wat op ’n vensterraam gekry is, het meegebring dat die eienaar van dié afdruk gister lank tronk toe gestuur is vir die moord op ’n direkteur van die destydse Technikon Pretoria.

Waarnemende regter Legodi Phatudi het Jeffrey Mogatla (35) van Mamelodi-Oos gister in die Pretoriase hooggeregshof 20 jaar tronk toe gestuur op aanklagte van moord, roof, en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Die tronkstraf word terugwerkend ingestel van 24 November 2006, toe Mogatla in hegtenis geneem is. Nóg 20 jaar tronkstraf wat hom opgelê is, is vir vyf jaar opgeskort.

Mogatla is skuldig bevind aan die moord op me. Mariana Bothma in die vroeë oggendure van 5 Desember 2000.

Bothma (47) is volgens ballistiese getuienis in die ken geskiet terwyl sy vooroor gebuk het.

Haar lyk is in die oprit van haar vriendin se huis in Rodericksweg, Lynnwood in Pretoria gekry. Die vriendin, me. Anneline Stroebel, is beroof en Stroebel se hond is in die been geskiet.

Stroebel het gister ná die vonnisoplegging gesê geregtigheid het geseëvier.

Mogatla se duimafdruk is aan die binnekant van ’n vensterraam by die huis gekry. Mogatla en sy makkers het die huis deur dié venster betree.

Phatudi het gesê die duimafdruk plaas Mogatla op die misdaadtoneel. Hy was een van die aanvallers.

Dit is nie duidelik of Mogatla die .45-pistool waarmee Bothma doodgeskiet is, by hom gehad het nie. Die aanvallers het egter ’n gemeenskaplike oogmerk en gesamentlike besit van die wapen gehad.

“Hy (Mogatla) was daar of het geweet dat die ander ’n vuurwapen en ammunisie gehad het.”

Mogatla se regsverteenwoordiger het ter versagting van vonnis aangevoer die beskuldigde kom uit ’n “voorheen benadeelde gemeenskap”, het slegs st. 5 (gr. 7) agter sy naam en is ongeskoold.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2273154,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.