Tuesday, 19 February 2008

Kookwater oor vrou (68) uitgegooi: Man beken skuld, sê hy is jammer

Steyn gister by die Johannesburgse hooggeregshof. Foto: Alan Murdoch

Feb 18 2008 10:34:17:013PM - (SA)

Magdel Fourie

Sonder om in te gryp het hy toegekyk hoe sy medebeskuldigde ’n 68-jarige vrou van Johannesburg ure lank met kookwater martel.

Só het Isaac Mako (45), ’n konstruksiewerker van Alexandra, gister in die Johannesburgse hooggeregshof skuld beken op die grusame moord op me. Sandy Staats van Craighall Park op 20 April verlede jaar.

Mako, geklee in ’n vlootblou windjekker, het in die beskuldigdebank geluister hoe adv. William Karam, sy regsverteenwoordiger, sy bekentenis aan die hof voorlees.

Staats, ’n afgetrede haarkapper wat 60% brandwonde in die aanval opgedoen het, is tien dae ná die rooftog in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal weens orgaanversaking dood.

Mnr. Sibusiso Phakhati (34) word saam met Mako aangekla.

Aangesien Phakhati skuld ontken, sal hy eers later verhoor word.

Die hof het gister in Mako se eie woorde gehoor hoe hy, Pha­khati en “Phakhati se vriend” per taxi van Alexandra na Craighall Park is en die aand omstreeks 20:00 by Staats se oop skuifdeur ingestap het.

Hulle het eers téén twee ander wonings besluit omdat dié te sigbaar of te goed beskerm was.

“Ons het toe met messe in ons hande by die gang afgestap gekom en twee vroue in die badkamer gesien gesels,” lui Mako se verklaring.

Hulle het Staats en haar vriendin, wie se identiteit weerhou word om haar te beskerm, gegryp, na die slaapkamer geneem en daar gedwing om op hul mae op die mat te gaan lê.

Albei is daarna vasgebind, waarna die mans aangedring het op hul geld en juwele.

Volgens Mako het Staats gesê dat hulle niks het nie, waarna Phakhati hom toe “toenemend vererg het”.

Uiteindelik het Phakhati die kamer verlaat en teruggekeer met ’n ketel in sy hand.

Mako het vertel hoe Phakhati dit daarna in die slaapkamer ingeprop en aangeskakel het.

“Ek het nie toe geweet wat sy bedoeling daarmee was nie, en omdat hy so geweldig kwaad was, het ek ook nie gevra nie.”

Phakhati het die ketel uitgeprop en die kookwater oor Staats se rug uitgegooi, het Mako verklaar. “Ek was geskok oor wat hy gedoen het, maar ek is jammer om te sê ek het niks gedoen om dit te stop of om myself nié daarmee te assosieer nie.”

Phakhati het nóg twee keer kookwater oor Staats uitgegooi terwyl sy angswekkend gegil het.

“Ek het geweet sy is magteloos om daarteen te veg,” het Mako gesê. “Maar ek is jammer. Ek het niks gesê of gedoen nie.”

Die mans het kort hierna gevlug, waarna Mako dieselfde nag op die aangrensende erf gearresteer is.

Toe het hy enige kennis van die aanval ontken. Maar toe hy later hoor Staats is dood, het hy besluit “om alles te erken”.

“Ek vra om verskoning aan die familie vir my gruwelike optrede,” het hy sy verklaring afgesluit.

Mako het ook daarin onderneem om vir die staat teen Pha­khati te getuig.

Staats se vriendin, me. Penny Steyn, het gister by die hof vertel hoe sy net ná die aanval na die huis laat kom is en by Staats op die deurweekte mat gesit het terwyl paramedici haar vriendin behandel het.

“Sy het net verskriklik geruk en gestotter,” het Steyn gesê.

Phakhati se saak sal op 17 Maart hervat word.

Mako sal na verwagting vandag gevonnis word.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2273163,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.