Monday, 4 February 2008

Ma verkrag, verwurg toe sy huis toe stap

Mnr. Jan Havenga (26) en sy babadogtertjie, Arista (9 maande), skaars 'n halfuur voordat sy vermiste vrou se lyk gevind is. Foto: Marupu Nkhumise



Feb 03 2008 09:17:31:990PM - (SA)

Fanie van Rooyen

Nadat sy sowat ’n dag lank vermis is, is die lyk van ’n ma van ’n nege maande oue dogtertjie gister omstreeks 14:30 langs ’n grondpad naby haar huis in die ooste van Pretoria gevind.

Mev. Elize Havenga (26) is vermoedelik in die bosse langs dié grondpad – skaars ’n paar honderd meter van die hoewe in die Rietfontein-hoewegebied waar sy gewoon het – verkrag en verwurg.

Sy is klaarblyklik oorval en vermoor terwyl sy huis toe ge-stap het om met haar man te gaan gesels nadat hulle vroeër ’n uitval gehad het.

Mnr. André Snyman van Eblockwatch het gister gesê verskeie lede van die gemeenskap, asook lede van Eblockwatch, en die polisie het sedert Saterdagaand die hoewe en die omliggende gebied vir Havenga, wat eergister om 14:00 die laaste keer lewend gesien is, gefynkam.

Mnr. Jan Havenga (26), haar man, het sowat ’n halfuur voordat die polisie gistermiddag sy vrou se lyk gevind het, by hul huis met Beeld gepraat.

“Ons het Saterdagoggend ’n uitval gehad en Elize het haar broer, mnr. Danie Vrey (24), gevra om haar te kom oplaai. Omtrent 10 minute nadat Danie haar kom oplaai het, het sy hom gevra om asseblief om te draai sodat sy verder met my kon kom praat.” Sy het haar broer gevra om haar af te laai by die grondpad wat uit Garsfonteinweg na hul hoewe lei, het Havenga gesê.

Vrey het gister gesê hy het aangeneem sy suster wou die 2 km huis toe stap omdat sy tyd wou hê om te dink.

Havenga het gister, voordat sy vrou se lyk gevind is, gesê sy sou nie sommer wegloop omdat sy vir hom kwaad is nie. “As ons baklei, gaan ons gewoonlik vir ’n rukkie uitmekaar om af te koel en dan probeer ons verder praat. Ons is meer passief as aggressief. Ek dink sy wou dinge met my kom uitsorteer.” Nadat sy vrou se lyk gevind is, het hy Beeld gebel om die nuus van haar dood oor te dra. Hy wou nie verder daaroor praat nie.

Geskokte familielede het gister voor Havenga se huis saamgedrom nadat die nuus dat haar lyk gevind is, bekend geword het.

Snyman het gesê teen gister 17:00 was daar reeds meer as ’n honderd mense wat met skok en afgryse op Eblockwatch se webtuiste op mev. Havenga se dood gereageer het.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2263966,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.