Thursday, 14 February 2008

Man in hof ná oue in kaappoging sterf

Feb 14 2008 07:21:33:003AM - (SA)

Francois du Plessis

’n Jong man sal vandag weens die moord op ’n 80-jarige vrou in die hof verskyn nadat hy haar vermoedelik tydens ’n mislukte kaping vroeër vandeesweek doodgeskiet het.

Die man (21) het na bewering die vrou, volgens berigte me. Myrtle Kagan, twee keer deur die venster van haar motor geskiet toe hy haar eergisteroggend voor ’n onderneming op die hoek van Johannesburgweg en Weinbergstraat in Lyndhurst, Johannesburg, wou kaap.

Sy is na die Milpark-hospitaal gehaas waar sy later aan haar wonde gesterf het. Polisie wou teen gister nog nie haar identiteit bevestig nie.

Die aanvaller het met leë hande gevlug.

Volgens supt. Thembi Nkwashu, polisiewoordvoerder, het die verdagte hom omstreeks 21:50 die aand saam met sy ma by die Sandringham-polisiestasie aangemeld.

Hy sal na verwagting vandag op aanklagte van moord en poging tot motorkaping in die Wynberg-landdroshof verskyn.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2270320,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.