Monday, 4 February 2008

Man val 7-jarige meisie, polisievrou glo kort ná vrylating aan

Mev. Ria van der Merwe, ma van die vermoorde Natassja.

02/02/2008 22:00 - (SA)

Marinet Jordaan

Volksrust

Skaars ’n maand nadat ’n veroordeelde moordenaar op vroeë parool vrygelaat is nadat hy as tiener ’n 12-jarige meisie vermoor het, is ’n meisietjie in Volksrust, dieselfde dorp, Maandag deur die vrygelate man aangeval.

Sipho Alfred Yende (21) het glo ook probeer om ’n polisievrou te verkrag.

Yende is in Oktober 2000 tot vyftien jaar tronkstraf gevonnis weens die moord op Nastassja van der Merwe (12) van Volksrust. Hy het Nastassja in Maart 2000 oorval en met ’n mes in die hart gesteek. Volgens kapt. Anton Heyneke van die Volksrust-speurtak is sy “vir ’n paar liter melk” aangeval.

Voordat hy tronk toe is, het Yende saam met ander jeugdiges uit die polisieselle ontsnap en hy was glo by ’n plaasaanval betrokke. Die 60-jarige mev. Gertruida Diedericks is in dié aanval dood. Heyneke sê hoewel Yende nie van moord op Diedericks aangekla is nie, is ’n jaar by sy vonnis gevoeg vir die ontsnapping.

Yende is in Desember, nadat hy agt jaar van sy vonnis in ’n jeug-rehabilitasie-sentrum uitgedien het, op parool vrygelaat. Hy het teruggekeer na Volksrust.

Saterdagaand het hy glo op ’n 33-jarige polisievrou afgestorm toe sy op pad huis toe was. Hy het haar met ’n mes gedreig en haar selfoon gegryp voordat hy haar platgedruk en probeer verkrag het.

Die vrou kon daarin slaag om met net ’n hemp aan te vlug. Sy het verskeie wonde opgedoen in die struweling, sê Heyneke.

Twee dae later het Yende glo weer toegeslaan. ’n Sewejarige meisie het Maandagmiddag in ’n veldpaadjie gestap op pad van die Laerskool Pionier na die Louis Hildebrand-kinderhuis, waar sy woon. Yende het haar glo eers agtervolg en toe voor haar ingespring. Hy het haar aan die keel gegryp, haar gesig toegedruk en in die gras gegooi.

Gemeenskapslede, onder wie verkeerspolisielede, het gesien wat gebeur en haar gaan help. Yende het die meisietjie gelos en is aangekeer. Die polisievrou se selfoon is glo in sy besit gevind.

Mnr. Johan Thiart, bestuurder van die kinderhuis, sê dit gaan goed met die meisie. “Ek dink sy is nog te jonk om te besef wat amper met haar gebeur het.”

“Dit is hartseer om te dink iemand wat in die tronk was vir moord, kom uit en wil maar net weer verkrag.”

Mev. Rita van der Merwe, Nastassja se ma, was baie geskok toe Rapport haar van Yende se beweerde nuwe misdrywe vertel. Nastassja was hul enigste kind. Volgens haar het hulle onlangs uit Volksrust weggetrek.

“Die afgelope sewe jaar was hel. My man het onlangs eers weer begin mens word en rigting kry.”

* Yende het dié week in die hof verskyn op aanklagte van poging tot verkragting, aanranding en diefstal. Volgens Heyneke kan nog meer ernstige aanklagte bygevoeg word.

Hy verskyn weer Donderdag in die hof.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2263554,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.