Wednesday, 27 February 2008

Metrolede sak glo op motoris se huis toe en teister gesin

Feb 26 2008 08:54:16:847PM - (SA)

Aletta Otto

Middelburg. – ’n Verkeersman van dié dorp het glo ’n egpaar, hul 14-jarige seun en die huishulp aangerand en hul hond geskiet.

Die beampte het ook glo, nadat hy die hond geskiet het, in Engels aan die vrou gesê: “Ek wonder wie is volgende.”

Vier aanklagte van aanranding en van crimen injuria en betreding is deur die Botha-gesin van Middelburg teen die beampte ingedien.

Insp. Lize Coetzee, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die beampte (wie se naam om regsredes weerhou word) aanklagte van roekelose en nalatige bestuur, bestuur onder die invloed van drank, verset teen arrestasie, korrupsie, omkopery en regsverydeling teen mnr. Peet Botha (54) ingedien het.

Botha het gesê hy is Saterdagaand net ná 18:00 deur die verkeersbeampte van die pad getrek toe hy op sy selfoon gepraat het.

Hy het aan Botha gesê hy moet saam met hom polisiestasie toe omdat hy “ruik na drank”.

“Ek het gesê dit is reg – ek sal saamgaan – maar ek wil net my voertuig by die huis gaan los. My huis is net ’n paar blokke weg,” het Botha vertel.

Botha beweer die beampte het agter hom aangery tot by sy huis. Kort daarna het hy glo sy sirene aangesit.

Daar het nog verkeersvoertuie bygekom en beamptes het glo probeer om Botha van die pad af druk.

Volgens Botha is hy kort daarna erg deur die beamptes aangerand. Een beampte het hom aan sy enkels gegryp en op die gras omgedop. Die ander beampte het hom agter die kop geskop, op die bors geskop, en geslaan, het Botha gesê.

Sy seun, Chris (14), is glo in die gesig geslaan. Die gesin se huishulp, mev. Linah Skhosana (54), is deur die gesig geslaan.

Mev. Trudie Botha (41), Botha se vrou, het glo vir die beampte gevra wat hulle doen, toe een haar met die elmboog op die bors geslaan het en glo vir haar gesê het, “F***off, white bitch, f***off”. Die lid het glo die hond deur die blad en skouer geskiet.

Botha is op R500 borgtog vrygelaat.

Volgens mnr. Willie Fouché, munisipale bestuurder van die Steve Tshwete-munisipaliteit, is hy bewus van die voorval.

“Ek weet dat die beampte een skoot geskiet het wat ’n hond getref het. Die saak is nou hangen-de en die reg sal sy gang gaan.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2278012,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.