Tuesday, 19 February 2008

‘Onsinnigheid’ laat regter haar aan moordsaak onttrek

Feb 18 2008 10:50:09:770PM - (SA)

Elise Tempelhoff

Vereeniging. – ’n Regter het haarself gister hier aan ’n saak onttrek omdat sy haar werk “ernstig opneem” en “snags met ’n skoon gewete” aan die slaap wil raak.

Regter Kathy Satchwell het gister gesê sy kan nie die saak aanhoor waarin twee mans tereg staan op ’n aanklag van moord op kapt. Anna-Marie Potgieter (39) nie, onder meer omdat sy een van die beskuldigdes se pleitverduideliking as “onsinnig” beskou.

Satchwell het gister weer eens geweier om die pleitverduideliking te aanvaar van mnr. Justice Arthur Anthony (25), wat skuld op aanklagte van moord en roof ontken. Anthony erken egter dat hy ’n begunstiger van die moord was, omdat hy die moordenaar gehelp het om Potgieter se naakte lyk onder takke op ’n vullishoop te versteek.

Mnr. John Johannes Tiisetso Dhlomo (20) het ook skuld op die twee aanklagte ontken. Luidens Anthony se pleitverduideliking het hy in die straat by die huis geloop waar die oorledene kort tevore vermoor is. Die moordenaar het hom glo toe gevra om hom te help om die lyk te verwyder.

Hierop het Satchwell gesê dis baie vreemd dat iemand so iets van ’n “vreemdeling wat toevallig verby stap” sal vra.

“Ek speel nie speletjies hier in die hof nie. Ek kom hof toe met ’n oop gemoed, sonder vooroordele. Ek bring ook geen gevoelens jeens die aanklaer of die advokate vir die verdediging saam met my nie. Ek wil nie hê die beskuldigdes moet voel hulle kry nie ’n regverdige verhoor nie.”

Die saak sal nou deur ’n ander regter verhoor word tydens die volgende sitting van die rondgaande hof op 28 Julie.

Potgieter se twee susters, mee. Lorraine Holzhausen en Bessie le Roux, het albei in trane uitgebars toe Satchwell haar aan die saak onttrek het.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2273171,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.