Monday, 18 February 2008

Paar beroof, honde se nekke omgedraai

Mnr. Ryan Birkenbach (regs) en me. Frances Kaplan vertel van drie rowers wat hulle die naweek in hul huis in Doornpoort in die noorde van Pretoria oorval het. Die rowers het hul twee hondjies se nekke omgedraai. Foto: Theana Calitz

Feb 17 2008 08:07:35:283PM - (SA)

Hilda Fourie

Gewapende rowers het ’n paartjie van Doornpoort, in die noorde van Pretoria, se twee honde nek omgedraai voordat hulle met selfoonlaaier- en haardroërdrade vasgemaak en die vrou met verkragting gedreig is.

Mnr. Ryan Birkenbach (27) en me. Frances Kaplan (26) is in die vroeë ure van Saterdagoggend deur drie rowers in hul huis in Dovealaan oorval.

Hulle het verlede Maandag in dié huis ingetrek.

“Charlie, ons Maltese poedel, het aanhoudend geblaf,” het Kaplan vertel.

“Ryan het uitgegaan om haar stil te maak.

“Gewoonlik gaan sy vreeslik te kere as sy pak kry, maar sy het niks gedoen nie. Net aanhoudend geblaf. Vyf minute later was sy stil.

“Dit is toe wat ons iets in die huis hoor wat val.”

Birkenbach het opgestaan en hom in die gang in ’n geweer se loop vasgeloop.

Die rower en sy twee makkers, van wie een ’n pik in die hand gehad het, het Birkenbach terug in die kamer ingedwing. Kaplan het langs die bed ingespring.

Een van die rowers het haar aan haar broekie gegryp en op die bed gedwing.

“Ek het gedink nou gaan ek weet hoe dit voel om verkrag te word. Ek het myself onbewustelik natgemaak. Ek dink dit het hulle afgeskrik,” het Kaplan gesê.

Die rowers het die paartjie se hande en voete met selfoonlaaier- en haardroërdrade vasgemaak.

Hulle het gedreig om Kaplan te verkrag indien Birkenbach hulle nie wys waar die skootrekenaars en selfone is nie.

Birkenbach moes met die haardroër om sy voete deur die huis hop om die rowers alles te wys.

Net voordat die rowers geloop het, het hulle eers ’n duvet oor die paartjie se gesigte getrek.

“Toe die duvet oor my kop is, het ek gewag vir die skoot om te klap. Ek het gedink vandag skiet hulle ons,” het Kaplan gesê.

Ná ’n paar minute het hulle al skreeuende na die straat gehop waar bure hulle losgemaak en die polisie gebel het.

Hulle het toe hul hondjies, van wie een ’n agt weke oue rottweiler is, begin soek en dood op die gras gevind.

“ Charlie het probeer om ons teen die rowers te waarsku. Die hondjies is ons helde,” het Kaplan gesê.

Volgens die paartjie het die lede van die Tshwane-metropolisie en die Sinoville-polisiekantoor hulself uitstekend van hul taak gekwyt.

Na dié voorval gaan Kaplan by dié polisiekantoor se krisissentrum werk en Birkenbach by die reserviste aansluit “sodat ons mense kan help wat ook deur so-iets is”.

Kapt. Jan Legoabe, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2272374,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.