Wednesday, 13 February 2008

Rower-koeël eis 12-jarige

'n Vriendin van die familie hou een van die meisietjies vas wat vermoedelik ook in die motor was. Foto: Felix Dlangamandla

Feb 12 2008 11:50:22:820PM - (SA)

Leané du Plessis

’n Kosblik het gisteroggend op die bloedbevlekte agtersitplek van ’n motor gelê nadat ’n skrander 12-jarige meisie van Fairland, Johannesburg, op pad skool toe deur ’n dwaalkoeël uit ’n rower se pistool getref is.

Emily Williams, ’n gr. 7-leerling aan die Trinityhouse Preparatory School in Randparkrif, is dood terwyl haar ma in spitsverkeer met haar hospitaal toe probeer jaag het.

Die drama het omstreeks 07:00 begin toe mev. Tony Williams haar motor, ’n brons BMW X3, in die oprit van mnr. Andrew Sanders se huis in Kesselstraat getrek het om dié se dogter, Alison (12), vir skool op te laai, sê insp. Bokkie Keulder, polisiewoordvoerder, gister.

Emily, haar sussie, Sophie (10), asook twee ander leerlinge, het op die agtersitplek gesit en wag.

Hulle was onbewus daarvan dat rowers sowat ’n uur tevore op dié huis toegeslaan en die inwoners – mnr. Sanders, Alison, haar ouma en hul huiswerker – in die huis vasgebind het. Die rowers was besig om huisware van die huis na die motorhuis te dra.

Williams het onraad vermoed en die Sanderse se veiligheidsmaatskappy ontbied nadat sy een van die rowers buite die huis gewaar het, sê Keulder.

“Sy het hom gevra wie hy is, waarop hy net omgedraai en terug in die huis ingestap het.”

Oomblikke later het twee lede van die veiligheidsmaatskappy Chubb opgedaag. ’n Skietery het tussen hulle en die rowers uitgebreek. Emily, wat links agter in die motor gesit het, is deur ’n dwaalkoeël in die kop getref, sê mnr. Mark Stokoe, woordvoerder van Netcare 911.

Insp. Karen Jacobs, polisiewoordvoerder, sê Williams het dadelik weggejaag, vermoedelik na die Wilgeheuwel-hospitaal in Roodepoort. Op pad daarheen het sy by ’n Shell-vulstasie in C.R. Swartrylaan gestop, waar paramedici wat op pad was na die huis waar die voorval plaasgevind het, noodbehandeling op Emily toegepas het.

Volgens Stokoe het Emily vermoedelik gesterf voordat sy die hospitaal bereik het. Die polisie het bevestig die dwaalkoeël was van een van die rowers afkomstig.

Keulder sê al vier rowers, almal tussen die ouderdom van 25 en 30, is vasgetrek – drie kort ná die skietery in die bure se tuin en die vierde verdagte gistermiddag.

Die vulstasie was die grootste gedeelte van die oggend met polisiebande afgesper. Vriende en familie het die ontroosbare Williams en die ander meisies, wat saam met haar ’n saamrygeleentheid gekry het, bygestaan.

Mev. Williams moes by tye deur vriende regop gehou word.

Haar man, Roger, het kort ná 08:00 op die toneel aangekom.

Dr. Herbie Staple, hoof van Trinityhouse, het gesê die skool is platgeslaan.

“Wanneer jy ’n leerling verloor wat só talentvol en betrokke by die skool is, word dit soveel meer gevoel. Sy was die soort meisie waarheen mense met hul probleme kon gaan. Ons lewens is leeg met haar heengaan.”

Emily was ’n top10-akademiese leerling in haar skool.

Mnr. Hilton Scott, adjunk-hoof, sê sy is die derde leerling in vier maande wat dié skool verloor.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2269529,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.