Monday, 11 February 2008

Sendeling se vrou grusaam tuis vermoor

Feb 10 2008 11:42:13:200PM - (SA)

Hilda Fourie

Mokopane (Potgietersrus). – Die 65-jarige vrou van ’n sendeling van dié Bosvelddorp is eergistermiddag in haar huis vermoor.

Me. Reinette Meyer (65) en haar man, past. Faan Meyer, sou vandeesweek op ’n sendingtog na Malawivertrek het.

Supt. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het gesê Meyer is eergister omstreeks 15:00 in haar huis oorval. Sy was alleen by die huis.

Die Meyers se huis grens glo aan ’n bos wat die dorp van Sekgagapeng, ’n swart woonbuurt, skei.

“Die aanvallers het haar keel afgesny. Voordat sy dood is, het sy nog die paniekknoppie gedruk,” het Ramatseba gesê.

Hy het bygevoeg hulle weet nie hoeveel mense by Meyer se dood betrokke is nie.

Niks is skynbaar gesteel nie.

Past. Meyer is die leier van die Kompas-gemeente in dié dorp. Die gemeente is onafhanklik. Ondanks die moord op sy vrou het Meyer steeds gisteraand vir sy gemeente gepreek.

Volgens een ooggetuie op die toneel was past. Meyer ten tyde van die voorval in Burgersfort besig met sendingwerk.

Veiligheidswagte van die Strikeforce-veiligheidsdienste het gesukkel om by die huis in te kom.

Volgens ’n veiligheidswag op die toneel wat nie sy naam genoem wou hê nie, lyk die Meyers se woning soos ’n “tronk”.

Hulle het Meyer se dogter, Jana, gebel. Sy het die huis oopgesluit en op haar ma afgekom waar sy op ’n stoel tussen die badkamer en hoofslaapkamer sit.

Sy was reeds dood.

Volgens die ooggetuie het Meyer verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Een was ’n diep steekwond aan haar nek. Haar slagaar is glo afgesny.

Die ooggetuie het gesê daar was baie bloed op die gordyne, op die mat en ander plekke waar Meyer skynbaar gevat het.

Die Meyers se tuinwerker is volgens ooggetuies in hegtenis geneem nadat bloed glo op sy skoensole gevind is.

DNS-toetse moet bepaal of dit wel Meyer se bloed is.

Die polisie kon nog nie bevestig dat die man in hegtenis geneem is nie.

’n Nadoodse ondersoek sal vroeg vandeesweek gedoen word.

Die ooggetuie het gesê misdaad is ’n probleem in Mokopane, maar dat die aanvalle nog nooit só grusaam was nie.

Iemand na aan die familie wat ook nie sy naam genoem wil hê nie, het gesê Meyer was baie geliefd onder die mense in Mokopane.

“Almal in Potties is geskud.

“Dit is ’n skok vir ons almal. Sy het niemand niks gemaak nie,” het hy gesê.

Meyer laat ook twee ander kinders agter.

Oorsprong:IOL
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2268061,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.