Wednesday, 6 February 2008

Skurk skiet top-matriek

Razelle van Moreletapark in Pretoria lê in die waaksaal van die Pretoria-Oos-hospitaal nadat 'n rower haar vyf keer geskiet het. Foto: Leon Botha



Feb 05 2008 09:22:06:217PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Pretoriase meisie wat verlede jaar agt onderskeidings in haar matriekeksamen ingeryg het, kan die gebruik van haar bene verloor nadat ’n gewapende rower “sy rewolwer op haar leeg geskiet het”.

Razelle Botha (18), een van die Hoërskool Waterkloof se toppresteerders in 2007, is eergisteraand om 21:45 by haar ouerhuis in Norvalstraat in Moreletapark in die arm, bors, maag, long en rugmurg geskiet.

Prof. Willem Botha, ’n afgetrede professor in geofisika aan die Universiteit van Pretoria (UP), was saam met sy dogter tuis toe die twee rowers toegeslaan het. Hy is in die lies gewond.

Die rowers het gevlug met ’n skootrekenaar en ’n kamera.

“Ek kan nie dink hoe ’n mens sy geweer op ’n kind kan leeg skiet nie,” het ’n hartseer mev. Kobie Botha, Razelle se ma, gister by die hospitaal gesê.

Dr. Ettienne Coetzee, ’n ortopediese chirurg by die Pretoria-Oos-hospitaal, het gistermiddag aan Antoinette Pienaar gesê Razelle is beseer by een van haar laer rugwerwels (L1).

Hy het gisteroggend op haar geopereer om bloeding te stop en beenfragmente te verwyder.

Coetzee is bekommerd dat Razelle nie weer sal loop nie.

“Dit lyk nie of sy regtig funksie in haar bene het nie. Sy is steeds in ’n ernstige toestand in die waakeenheid met ’n dreineringspyp in haar borskas.”

Mev. Botha het gesê Razelle, ’n kranige danser, redenaar en natuurfotograaf, was besig om haar klere in te pak omdat sy gister Kaap toe sou gevlieg het waar sy haar kêrel, Stefan Ungen, sou ontmoet het.

“Hulle sou dan Switserland toe gevlieg het waar hulle vir vier maande sou gaan werk het.”

Stefan het gistermiddag Pretoria toe gevlieg om by Razelle te wees.

Mev. Botha het gesê haar man was in sy kamer besig om sy wekker te stel.

“Hy het op die bed gesit. Toe hy opkyk, het ’n man met ’n rewolwer voor hom gestaan en gesê hy moet stilbly en plat lê.

“Hy het op die bed gaan lê en toe probeer om die rewolwer te gryp, maar toe skiet die man hom.

“Die man het in die gang afgestap na Razelle se kamer waar hy sy rewolwer op haar leeg geskiet het.”

Mev. Botha het gesê Razelle kon nie verstaan waarom die man haar skiet nie. “Sy het gesê: ‘Ek was so verbaas dat hy my skiet. Ek was vriendelik met hom én onderdanig.’ ”

Die inbreker het deur ’n venster toegang tot die huis gekry.

Mev. Botha, wat klas gee aan onderwysstudente van die UP, was by ’n vergadering oor fotografie toe haar man haar bel en gesê het sy moet dringend huis toe kom.

“Ek het ’n familielid wat ’n dokter is, gebel, asook die polisie en ambulans. Ek en dr. Herman Basson het gelyk by die huis aangekom, maar toe is die huis gesluit.

“Hy het die agterdeur oopgeskop.”

Razelle het reeds by verskeie VSA-universiteite aansoek gedoen waar sy graag medies wil gaan studeer. Sy het einde verlede jaar in ’n onderhoud met Beeld gesê sy het besluit om dié roeping te volg omdat dit “jou ’n kans gee om mense te help – veral in Suid-Afrika”.

Leerlinge van die Hoërskool Waterkloof-hoof is gisteroggend by die skool gevra om vir Razelle te bid.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2265172,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.