Wednesday, 6 February 2008

Swanger ma, seun kruip weg ná skote in kamer

Feb 05 2008 09:21:57:183PM - (SA)

Christel Raubenheimer

’n Gewonde, swanger ma het met haar tweejarige seuntjie langs hul huis op ’n kleinhoewe in die noorde van Pretoria weggekruip nadat gewapende rowers haar én haar man geskiet het.

Mev. Mazzie Lottering (32), haar man, Pieter (30), en hul seun, Kael (2), is eergisteraand omstreeks 23:00 in hul huis op ’n kleinhoewe naby Bon Accord oorrompel. Mev. Lottering is ’n paar weke swanger.

Dié voorval is minstens die derde gewapende rooftog in net 12 uur in Pretoria.

Mev. Lottering het wakker geword toe een van die rowers ’n flitslig deur ’n veiligheidshek by die kamerdeur op haar geskyn het waar sy in die egpaar se bed gelê het, het haar skoonpa, mnr. Phillip Harvey, gesê.

Die rower het waarskynlik ’n handbeweging gesien en losgebrand. Hy het mev. Lottering in die hand getref.

Mnr. Lottering het daarna na die deur gestorm en is in die bors en maag gewond.

Een van die skote het klein Kael se bedjie in die kamer rakelings gemis. Hy is ongedeerd.

Mev. Lottering het intussen haar skoonouers gebel en hulle het die polisie ontbied.

Die sleutel van die veiligheidshek was in die slot en die rowers het dit oopgesluit en ingekom. Hulle het mnr. Lottering se trouring afgehaal terwyl hy bloeiend in die kamer gelê het.

Volgens Harvey het mev. Lottering die rowers gesmeek om net die gesin se motor te vat en hulle uit te los. Sy het gesê sy het reeds familie gebel en haar man is gewond, waarna die rowers met die motor gevlug het.

Die egpaar was teen gistermiddag nog in die Pretoriase Akademiese Hospitaal. ’n Operasie van etlike ure is op mnr. Lottering gedoen.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2265177,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.