Friday, 15 February 2008

Veg om sy lewe ná skote

Feb 15 2008 12:42:27:187AM - (SA)

Amanda Roestoff

Krugersdorp. – ’n Veiligheidswag wat ’n vrou in Kenmare van ’n moontlike verkragting gered het, is drie keer geskiet.

Mnr. Johan Brits, ’n wag van EPR-sekuriteit, veg tans om sy lewe in die Krugersdorpse private hospitaal.

Hy is Vrydag in die bolyf en been getref toe hy op ’n bende afgekom het wat besig was om ’n huis in Longfordstraat te beroof.

Oomblikke voordat die rowers hom geskiet het, het een van die skurke mev. Martie Pieterse (47) se broek van haar lyf afgeruk en gedreig om haar te verkrag.

Pieterse en haar man, Danie (49), is Vrydag omstreeks 22:00 deur twee rowers oorval kort nadat hulle met hul nuwe CL200 Mercedes-Benz tuisgekom het.

Toe daar te lank getalm is om in die huis in te gaan, het die alarm afgegaan.

Mnr. Pretorius is oor die kop geslaan en gedreig dat as hy nie die alarm afsit nie, sal sy vrou geskiet word.

Die egpaar is na die hoofslaapkamer gedwing, waar mnr. Pieterse “magteloos met ’n pistool teen sy kop” op sy knieë gedwing is, terwyl die rowers vuurwapens, nog geld en bankkaarte geëis het.

Mev. Pieterse is na die kombuis gedwing om na die kluissleutels te soek.

Sy is rondgepluk en aangerand toe ’n derde verdagte die huis binnegestorm het.

Rowers het buite in drie wegkommotors gewag terwyl hul makkers die huis geplunder het.

Mev. Pieterse is na haar seun se kamer gesleep en op ’n bed neergegooi.

Twee mans het haar vasgedruk en aan die keel gegryp om bankkodes uit haar te dwing.

“As jy die verkeerde nommers gee, sal ek jou verkrag,” het ’n rower haar toegesnou.

Toe een sy broekgordel losmaak en haar langbroek aftrek, het sy “net daar besluit, vandag sal jy my nie verkrag nie!”

Sy was glo vasbeslote om met alle mag te baklei, toe Brits glo net betyds op die perseel opgedaag en die rowers na buite gehardloop het.

Hulle het vanuit die tuin op hom begin skiet.

Mnr. Pieterse het sy rewolwer op ’n wegsteekplek uitgehaal en is agterna toe hy skote gehoor klap het.

Hy het Brits in die oprit gesien lê en gedink dis sy seun wat by die huis opgedaag het, toe Brits geskreeu het: “Ek’s geskiet. Ek’s geskiet.”

Pieterse, wat nie verder in die voorval beseer is nie, het sy rewolwer op die rowers “skoongemaak”, toe dié op hom begin skiet.

Die rowers het met drie selfone op vlug geslaan.

Kapt. Jacob Raboroko, polisiewoordvoerder van Krugersdorp-gebied, sê die rowers is steeds soek.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2271199,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.