Saturday, 16 February 2008

Vriende by vulstasie deur 5 mans geskiet

Feb 16 2008 12:30:23:147AM - (SA)

Virginia Keppler

Twee vriende se Valentynsdagvieringe het byna in die dood geëindig toe hulle deur vyf gewapende mans by ’n vulstasie in Hatfield, Pretoria, aangeval is en een met ’n pistool op hulle losgebrand het.

Mnr. Rowan Bourbon (27) is in die regterskouer geskiet.

Dié koeël sit nog in sy linkerbors vas en gaan nie nou verwyder word omdat dit nie ’n gevaar vir hom inhou nie, het sy dokter gesê.

Mnr. Arno Olivier (26), Bourbon se vriend, is in die maag geskiet. ’n Noodoperasie is gister op hom uitgevoer. Albei mans word in die Pretoria Akademiese Hospitaal behandel.

Olivier sou vandag sy 26ste verjaardag met familie en vriende vier.

Volgens Bourbon het die voorval omstreeks 03:45 plaasgevind nadat hulle van Valentynsdagvieringe af gekom het.

Hulle het by die Engen-vulstasie op die hoek van Duncan- en Burnettstraat in aparte motors vir hul wegneemetes by die Vetkoek Maleis gewag toe die verdagtes in ’n liggroen Renault ook daar stilgehou het.

“Ek het buite die motor gestaan en met my meisie deur die venster gesels. Twee van die mans het uit hul motor geklim en met Arno begin praat en dit het gou in ’n argument ontaard.”

Kap. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het gesê die ander drie verdagtes het ook uit die motor geklim en na die slagoffers gestap.

“Een van hulle het ’n skokstok gehad,” het sy gesê.

“Die volgende oomblik het een van die mans ’n pistool uitgepluk en ’n skoot in die grond afgevuur. Toe skiet hy Arno in die maag.”

Bourbon het gesê hy het in sy motor gespring en begin agteruit ry toe die man skielik langs sy motor verskyn het. “Hy het sy wapen op my gerig en my deur die venster geskiet.”

Bourbon het weggejaag met Olivier agterna, maar Olivier het enkele meters van die vulstasie af sy bewussyn verloor.

“ ’n Ooggetuie het Arno gehelp en ook sy ma met sy selfoon gebel.

“Ek kan nie glo iemand kan jou skiet vir niks nie. Hulle het ons nie eens probeer beroof nie,” het Bourbon gesê.

Hy vrees nou dat die mans hulle weer gaan probeer aanval.

Weilbach het gesê beeldmateriaal van die kringtelevisiekamera by die vulstasie is nie duidelik nie aangesien dit nog baie donker was. “Die nommerplaat wat ons het, is ook vervals.”

Volgens Weilbach is die Brooklyn-polisie se spesiale taakspan besig om die voorval te ondersoek. Hulle het glo reeds waardevolle inligting.

Dié span het onlangs mnr. Fred Picton-Turbervill (46) en mev. Rinda Abraham (55), wat albei in hul huise in Waterkloofrif, Pretoria, doodgeskiet is, se moordenaars opgespoor en gearresteer.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2271747,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.