Monday, 11 February 2008

Werkers help toe inbrekers vrou gryp

Feb 10 2008 11:42:11:903PM - (SA)

Hilda Fourie

Sy is deur skurke aan haar voete gegryp en by ’n bos ingesleep.

Me. Ona van Niekerk (46) het vandat twee mans haar gister omstreeks 01:00 by haar huis in Skietfontein, noord van Pretoria, oorval het, nie vir ’n oomblik ophou skreeu en stoei nie.

Nie eens nadat die mans haar met ’n stuk gereedskap oor die kop geslaan het nie.

Volgens Van Niekerk se man, James (46), was sy vrou se gille haar redding.

Van hul plaaswerkers het ondersoek gaan instel en die mans afgeskrik. Die mans het gevlug.

“My vrou was alleen by die huis want ek werk in Pretoria en ons kinders was uit vir die aand,” het mnr. van Niekerk gesê.

“Ons het twee buitekamers aan die kant van die huis. Ona het gehoor hoe ’n deur klap. Sy het uitgegaan om te gaan kyk of dit die kinders is.

“Die kamers se deure was oop.

“Sy het die ligte aangeskakel en gesien al die kaste is uitgegooi.

“Toe sy by die kamer uitloop, het die mans haar oorval. Sy kon losruk en het na die voordeur gehardloop en gegil.

“Hulle het haar aan die voete gegryp en in die bos ingesleep.

“Daarna het hulle haar met ’n stuk gereedskap oor die kop geslaan en haar mond probeer toedruk.

“My vrou het steeds aanhou gil en stoei.

“Die plaasvolk het haar gehoor en nader gehardloop om te help. Die mans het toe my vrou gelos en weggehardloop,” het mnr. Van Niekerk gesê.

Volgens hom het van die plaaswerkers werkers op ’n nabygeleë kleinhoewe waar die Van Niekerks se kinders was, gebel en vertel wat aangaan.

Hulle het hul na hul ma gehaas.

Me. Van Niekerk was gister nog te getraumatiseerd om met Beeld te praat.

Mnr. Van Niekerk het gesê hy is sy plaaswerkers ewig dank verskuldig.

“Die skurke sou my vrou verkrag het as hulle (die werkers) nie daar aangekom het nie.

“Dié werkers sal hul lewe vir ons gee. Hulle was my vrou se redding,” het mnr. Van Niekerk gesê.

Insp. Matthews Nkoadi, polisiewoordvoerder, kon nie die voorval bevestig nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2268062,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.