Thursday, 20 March 2008

20 jaar vir man wat pa aanval

Mev. Daleen Pieters en Gideon, haar seun, by die hof. Foto: Alta Snyman

Mar 19 2008 07:53:07:037PM - (SA)

Alta Snyman

Rustenburg. – Een van die mans wat op 12 Julie 2006 mnr. Frans Pieters van Swartruggens met kookwater gebrand, sy voorkop oopgesny, hom met ’n skoenveter verwurg én sy gesin aangeval het, het gister ’n ligter as lewenslange tronkstraf gekry.

Kabelo Ernst Khoza (20) is 20 jaar tronk toe gestuur nadat regter Leah Gcabashe bevind het daar was versagtende omstandighede – sy ouderdom en die geleentheid wat dit bied vir rehabilitasie; die feit dat hy gesê het hy het berou en gevra het die Pieters-gesin moet hom vergewe; en dat hy bereid is om die polisie te help om sy makkers aan te keer en dan in die hof te getuig. Mnr. Charles Moremi, sy regsverteenwoordiger, het sy huislike omstandighede voorgehou: hy het geen skoolopleiding gehad nie, sy pa is dood en hy onderhou sy werklose ma.

Mev. Daleen Pieters (33) het gister by die rondgaande hof hier aan Beeld gesê sy is bly dat Khoza gevonnis is. Haar seun Gideon (12) was by haar.

Khoza was sedert 2006 in aanhouding. Sy twee meelopers is steeds op vrye voete.

Khoza is gevonnis tot 20 jaar tronkstraf weens die moord op Pieters, 18 jaar elk op twee klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer (op mev. Pieters en Gideon) en 15 jaar weens huisbraak. Hy sal dié vonnisse samelopend uitdien.

Hy het ’n vorige veroordeling vir huisbraak (in 2005) waarvoor hy 2 ½ jaar tronkstraf opgelê is. Hiervan was een jaar opgeskort op voorwaarde dat hy nie binne vyf jaar aan huisbraak skuldig bevind word nie. Dié opgeskorte vonnis tree nou in werking.

Die drie aanvallers het omstreeks 21:15 die voordeur van die Pieters-woning oopgeskop.

Nadat hulle mev. Pieters (33) – wat alleen in die sitkamer was – met ’n mes aangeval en haar been op twee plekke tot op die been oopgesny het, het hulle mnr. Pieters (44) en twee van die egpaar se drie kinders in hul kamers gaan haal. Die oudste seun (toe 12) was nie daardie aand tuis nie. Mnr. Pieters het ’n kunsbeen gehad en dié was afgehaal omdat hy al geslaap het toe die aanvallers die huis binnegekom het.

Khoza en sy makkers was bykans vier ure lank in die huis. Die egpaar, Anusckha (3) en Gideon (10) is vasgebind en hul monde toegemaak.

Een aanvaller het Anusckha in ’n stadium geklap en Gideon is gebrand met druppende plastiek.

Mnr. Pieters se voorkop is onder meer oopgesny en hy is met kookwater gebrand voordat hy met ’n skoenveter verwurg is.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2291293,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.