Friday, 7 March 2008

3 lank tronk toe vir moord op vrou (66)

Mar 06 2008 07:56:19:260PM - (SA)

Nicolize van der Walt

Potchefstroom. – Dis byna ’n jaar sedert drie moordenaars sy vrou, met wie hy 44 jaar lank getroud was, voor sy oë doodgeskiet het.

Mnr. Edgar Friedrichsen (74) vee steeds die trane af wanneer hy die aand van 28 Maart verlede jaar herroep toe hy ook vier keer geskiet is.

Sy vrou, Christel (66), is noodlottig gewond.

Hy het gister huilend aan Beeld vertel dat hy sy vrou nog elke dag mis. “Soms wonder ek waarom hulle my nie ook maar net morsdood gemaak het nie. Ek wou haar so graag help, maar kon niks vir haar doen nie. . .”

Eergister is haar drie moordenaars hier in die rondgaande hof gevonnis.

Jan Seun Letshobe (26) en Kleinbooi Mokhutswani (24) is lewenslank tronk toe gestuur vir die moord, ’n verdere 20 jaar vir roof en tien jaar vir poging tot moord.

Jan Seun Letshobe is ook tot sewe jaar tronkstraf gevonnis vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Albei is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en albei se aansoek om verlof tot appèl is dadelik van die hand gewys.

Die derde beskuldigde, Frans Letshobe (19) (dit is onbekend wat sy verwantskap met Jan Seun is), is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op mev. Friedrichsen, ’n verdere 10 jaar vir poging tot moord en 18 jaar vir roof.

Ook hy is onbevoeg verklaar om ooit weer ’n vuurwapen te besit. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Jan Seun Letshobe was tydens die Friedrichsens se aanval glo uit op parool vir roof met verswarende omstandighede, wat verband hou met die dood van ’n ander bejaarde vrou.

“Ai, ek voel tog jammer vir hulle. Dis ’n vreeslike straf om uit te dien . . . Wat help dit alles? Dit sal nooit my vrou terugbring nie,’’ sê mnr. Friedrichsen in sy swaar Duitse aksent. Hy het ook ’n spraakgebrek oorgehou, aangesien een van die koeëls deur sy wang en verhemelte is. Twee ander skote het hom in die arm getref en nog een in die maag.

Die egpaar het 37 jaar op hul Wilgeboom-kleinhoewe naby dié stad gebly.

Die moordnag is hulle in hul hoewehuis oorval nadat hulle van hul bure af teruggekom het.

Mnr. Friedrichsen het sy vuurwapen te voorskyn gebring, maar is deur een van die rowers oor die kop geslaan.

Hulle het die wapen afgevat en die twee bejaardes met hul eie vuurwapen geskiet.

“Hulle het gesê: ‘Vanaand skiet ons julle vrek.’ Hulle wou net geld hê. Ek onthou nog hoe my vrou gelê het . . . so doodstil. So in ’n groot plas bloed . . . ”

Mnr. Friedrichsen is egter bly die aanvallers “is uit die gemeenskap weggevat dat hulle dit net nooit weer aan iemand anders kan doen nie”.

Hy bly steeds in die hoewehuis waar die nagmerrie hom afgespeel het. Die egpaar het geen kinders nie en mnr. Friedrichsen se familie bly in Duitsland vanwaar hy op 28-jarige ouderdom na Suid-Afrika geïmmigreer het.

Insp. Bonita Dry van die Potchefstroom-speurtak was die ondersoekbeampte.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2283635,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.