Wednesday, 5 March 2008

4 uit 5 verdagtes vas ná nagmerrie-rooftog by gesin se plaashuis

Mar 04 2008 09:07:15:300PM - (SA)

Nicolize van der Walt

Vryburg. – Met sy broek in sy mond en oor sy oë vasgebind het hy bly bid.

Terwyl die bloed hom afstroom het hy gehoop sy aanvallers sal hom, sy skoonma en sy vrou nie doodskiet nie.

Mnr. Francois Strydom (54) het gister van sy en sy gesin se nagmerrie-ondervinding eergisteraand vertel toe hulle langer as ’n uur en ’n half lank doodstil moes lê terwyl vyf gewapende mans hul plaashuis geplunder het op soek na geld en ander kosbare buit.

“Ek het omstreeks 19.30 by die plaas, sowat 12 km uit die dorp, aangekom.

“Ek het uitgeklim om die hek oop te maak.

“Die volgende was hierdie vyf gewapende mans op my. Hulle het my geskop, geslaan en met ’n mes gesteek. Ek is 13 keer in my arm gesteek soos ek vir my kop gekeer het. Hulle het my vasgebind en wou toegang tot die plaas kry,” het Strydom vertel.

Een van die aanvallers het in ’n stadium gesê: “ Let’s shoot the f***ing dog ,” maar van sy makkers het hom aangeraai “om te wag totdat hulle eers alles het”.

Die rowers het Strydom in sy dubbelkajuitbakkie ingeboender en die toeter by die plaashek bly blaas. Ongeveer 15 min. later het Strydom se skoonma, mev. Hes Bakker (80), die hek met ’n afstandbeheer oopgemaak.

Nadat Strydom en sy skoonma die huis ingedwing is, het hul nagmerrie nog anderhalfuur aangehou.

“Hulle wou heeltyd geld hê. Ek en my skoonma is met dekens toegegooi en mag glad nie beweeg het nie. Haar ringe is van haar vingers afgesteel.

“My vrou was in die huis besig toe die mans haar betrek. Sy moes hulle alles wys en hulle het bly geld eis. Hulle het deurentyd gedreig om ons te skiet.”

Die mans het juwele, vyf vuurwapens, geld en heelwat huishoudelike goed soos ’n DStv-dekodeerder, DVD-spelers, ’n TV-stel en die dubbelkajuitbakkie geroof.

Een van die verdagtes is ’n paar uur later vasgetrek.

Kapt. Charlize van der Linden, polisiewoordvoerder op Vryburg, het later bevestig dat daar teen gisteroggend om 08:00 reeds vier van die vyf verdagtes in hegtenis geneem is. Die meeste van die gesteeld goed en die wapens wat in die aanval gebruik is, is gevind.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2282165,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.