Monday, 24 March 2008

Aangeval in sentrum; vrou los SA

Mnr. Sheldon Kearney praat oor sy ervaring toe hy en sy vriendin, me. Taryn-Lee Vermaak, Donderdagaand in Menlyn-winkelsentrum, in die ooste van Pretoria, deur ses onbekende mans aangeval en aangerand is. Foto: Theana Calitz

Mar 23 2008 08:32:37:603PM - (SA)

Hilda Fourie

‘Ek voel of ek vervloek is.

“Ek weet ek gaan nooit weer Menlyn toe nie, en ek weet ek gaan die land verlaat sodra ek klaar studeer het.”

Dít was gister die woorde van me. Taryn-Lee Vermaak (18), ’n bedryfsielkunde-student aan die Universiteit van Pretoria (UP), nadat sy die naweek vir die vierde keer ’n misdaadslagoffer in haar geboorteland was.

Vermaak en haar vriend, mnr. Sheldon Kearney (18), wat B.Sc. aan die UP studeer, is Donderdagaand by die Menlynpark-winkelsentrum in Pretoria deur ses mans aangeval en aangerand.

Vermaak het Beeld gister vertel van dié voorval toe hulle gedink het “vandag word ons vermoor”.

Dié paartjie het Donderdagaand ’n vriend se verjaarsdagvieringe in die Boabab-restaurant bygewoon. “Ons het omstreeks 21:00 Boabab verlaat en by die Kentucky Fried Chicken rondgestaan, mekaar drukkies gegee en gedans,” het Kearney gesê.

“Die volgende oomblik kom ’n ou by my en sê: ‘Wat kyk jy?’

“Ek het hom nog nooit in my lewe gesien nie. Ek ken hom van geen kant af nie.

“Hy het my begin wurg. Sy vyf makkers het my en Taryn toe begin aanrand. Hulle het ons in ons mae, op die ken, in die nek en op ons bene geskop.”

Kearney en Vermaak het nog merke op hul liggame waar hulle geskop is.

Volgens Vermaak het die ses aanvallers skielik opgehou en weggeloop. Die paartjie het by die een stel roltrappe afgeloop toe die aanvallers hulle weer bestorm.

“Jy weet nie of hulle messe of vuurwapens by hulle het nie. Al wat jy dink, is vandag maak hulle jou dood,” het Kearney gesê.

“Twee van hulle het probeer om my by die roltrappe af te gooi.

“ ’n Mens kry net nagmerries oor sulke goed. Ek kan nie beskryf watter vrees gaan deur ’n mens se lyf nie.

“Ek weet nie hoe nie, maar ek het dit reggekry om myself terug op die roltrap te kry. Ek het met my motorfietshelm, wat in my hand was, na agter geswaai. Ek weet nie wat ek getref het nie, maar my helm is gebreek.”

Toe die paartjie aan die onderkant van die roltrappe kom, het hulle gesien hoe veiligheidswagte die aanvallers jaag.

Vermaak het gesê sy is “gatvol” vir die misdaad in Suid-Afrika.

Dié voorval is die vierde keer dat sy ’n slagoffer van misdaad is.

Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê drie verdagtes tussen die ouderdom van 19 en 21 jaar is in hegtenis geneem. Hulle is van Erasmia en Laudium.

Die verdagtes sal môre in die gemeenskapshof in Hatfield verskyn op ’n aanklag van aanranding.

Me. Louise Ketterer, bemarkingsbestuurder van die Menlynpark-winkelsentrum, het gesê die voorval word ondersoek.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2292914,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.