Tuesday, 11 March 2008

Aangeval, maar hy ‘sal nié rassis word’

Lochner de Kock, bekende sanger, liedjieskrywer en koskenner, vertel hoe 'n rower hom Sondagoggend twee keer in sy huis gewurg het. Hy het terugbaklei en die rower het gevlug. Foto: Bongiwe Gumede

Mar 10 2008 09:53:03:900PM - (SA)

Sanri van Wyk

Die bekende sanger, liedjieskrywer en koskenner Lochner de Kock is eergister in sy huis in Melville, Johannesburg, aangeval.

“Ek het meer skade in my kop as aan my lyf,” het De Kock gister bewend en betraand aan Beeld gesê.

“Ek weier dat die voorval my in ’n rassis verander.”

De Kock, wat sowat drie weke gelede saam met sy vrou, Christine Pretorius hier ingetrek het, sê hulle het nog gewag dat hul alarm geïnstalleer word.

Hy het vertel hoe hy 04:00 wakker geword het en “ ’n baie groot man” vlak voor sy bed gewaar het.

“Hy het my bespring en gewurg. Ek het hom met albei voete geskop. Hy het weggebons.

“Hy het gesê hy gaan my steek en my weer gewurg. Toe ek die klikgeluid van ’n mes hoor, het ek hom geskouer en hy het na die gang gehardloop.”

De Kock het gesê hy het dadelik sy kamerdeur gesluit en na sy eie mes, wat by hom in die kamer was, gesoek.

Hy het egter gedink aan sy vrou, wat in ’n ander kamer slaap, en is mes in die hand agterna. Die rower was reeds weg.

Sy vrou het “gevries” en ’n konfrontasie vrygespring.

Die man, sê De Kock, het verskeie kere aan hom gesê: “Ek kan jou doodmaak.”

De Kock het ’n seer slukderm en ’n paar kneusplekke. Hy kry ook berading.

Die egpaar se dogter, Cara de Kock en haar musikantvriend Jahn Beukes, wat in ’n ander huis op dieselfde erf bly, is ongedeerd.

Die rower is met De Kock se selfoon en kontant van tussen R1 000 en R1 500, asook die fietse van die tuinier en dié se oom, weg.

Richard van der Westhuizen, De Kock se jare lange sangmaat, het die voorval veroordeel.

“Ons leef in barbaarse tye. Dit lyk of die barbare die oorhand kry.”

Insp. Lorraine van Emmerick, ’n polisiewoordvoerder, het gesê De Kock was gister te getraumatiseer en hy sal vandag ’n verklaring by hulle aflê.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2285630,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.