Wednesday, 12 March 2008

Besetters hang vel aan depot se hek

Mar 07 2008 07:06:08:120PM - (SA)

Aletta Otto

Ermelo. – Die besetters van die Caltex-depot hier het glo ’n dag voor die besetting ’n skaap geslag en die vel aan die hek na die depot opgehang.

Volgens mnr. Henk Celliers, die depot-eienaar, is ’n ander skaap ook die hele naweek lank agter op die perseel sonder kos en water vasgemaak.

“Toe ons die skaap Maandagoggend kry, toe lê hy en ruk in ’n kring van sy eie mis en urine,” het Celliers gister gesê.

Dié dier is wel later verwyder.

Celliers het gesê dat die groep besetters Woensdag hardop die Jacob Zuma-dreunsang “Awuleth’ umshini wami” gesing het.

“Toorgoed” is ook volgens Celliers in die kantore ingegooi.

Die besetters het verlede Maandag met swart Range Rovers sonder nommerplate by die depot opgedaag en beslag gelê op Celliers se kantoortoerusting, sowel as die dieselpompe.

Ten spyte van twee hooggeregshofbevele was die groep nog teen gister op die perseel.

Celliers-hulle sê hulle het intussen hul eie kantore terug, maar die groep mans dreig hulle steeds.

Celliers het ’n klag van diefstal en bedrog by die polisie ingedien nadat R30 000 kontant en byna R170 000 se diesel vermis geraak het.

Volgens Celliers het hulle gister aan nog ’n hooggeregshof-aansoek gewerk om die groep van die perseel af te probeer kry.

Mnr. Percy Masinga, een van die mans in die groep, sê dat hy die nuwe eienaar is van Ufudu Transport aan wie die depot-gebou behoort.

Celliers het egter nog vir twee jaar ’n huurkontrak vir die gebou.

Masinga het gister aan Beeld gesê dat hy per e-pos sal kommentaar lewer. Teen druktyd is niks egter nog ontvang nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2284211,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.