Friday, 14 March 2008

Dowe oorval, glo verkrag

Die dowe vrou van Mokopane (Potgietersrus) wat eergister wreed met 'n hamer aangerand en vermoedelik verkrag is, word in 'n ambulans gelaai kort ná die gru-voorval. Foto: Die Noordelike Nuus

Mar 13 2008 09:19:50:517PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Mokopane (Potgietersrus). – ’n Dowe vrou is eergistermiddag hier in haar tuin oorval, met ’n hamer oor die kop geslaan en vermoedelik verkrag.

Die 61-jarige vrou is in ’n stabiele toestand in die Voortrekker-hospitaal in dié dorp.

’n Zimbabwiër en ’n vriend van hom van Tzaneen, wat bouwerk by ’n nabygeleë huis gedoen het, is kort ná die aanval in hegtenis geneem.

Konst. Mmadikgale Nkomo, polisiewoordvoerder, het gesê die vrou is eergistermiddag ná 13:00 in haar erf oorval. Sy het agter in die erf in haar tuin gewerk. Omdat sy doof is, het sy nie gehoor toe die aanvallers nader geloop het nie. Dit is nie bekend hoe hulle toegang tot die erf gekry het nie.

Een van die verdagtes, die Zimbabwiër, het haar glo met ’n hamer oor die voorkop geslaan.

Sy is daarna in die huis ingesleep waar sy glo verkrag is.

Hy het haar glo daarna aangesê om haarself te was, anders gaan hy haar doodmaak. Hy en die ander aanvaller (23) het glo toe met haar selfoon gevlug.

Die angsbevange vrou het na buite gestrompel en aanhoudend gegil. Die bure se kinders het haar gille gehoor en dadelik hul pa gebel. Die nooddienste is ontbied en die vrou is na die hospitaal geneem.

Die twee verdagtes is eergistermiddag in ’n nabygeleë huis aangekeer waar hulle bouwerk gedoen het. Hulle het gister vlugtig in die landdroshof in die dorp verskyn en is steeds in aanhouding. Hulle is nie gevra om te pleit nie en moet weer op 19 Maart in die hof verskyn.

Misdadigers het gister in die vroeë oggendure ook ’n kitsbank buite dié dorp opgeblaas en sowat R113 000 gebuit.

Die vlaag misdaadvoorvalle die afgelope tyd in dié dorp maak inwoners erg bekommerd oor hul veiligheid.

“Dit is deesdae baie wild in ons dorp, misdadigers is oral. ’n Mens is nêrens veilig nie,” het ’n inwoner, wat anoniem wil bly, gesê.

Volgens Nkomo is niemand nog vir die kitsbank-voorval by die Caltex-motorhawe buite die dorp aangekeer nie. Petroljoggies het glo omstreeks 03:00 gisteroggend mans in ’n rooi minibus gesien wat moontlik vir die voorval verantwoordelik was.

Misdaad in die dorp neem skerp toe veral sedert begin vanjaar. In Februarie was dié dorp geskok toe mev. Rheinette Meyer (57) se keel in haar huis afgesny is.

’n Week later is ’n bejaarde egpaar, mnr. Ludwig Wernich (76) en sy vrou, Rita (69), in hul woonstel wat deel is van die Piet Potgieter Monument-ouetehuis in die dorp, versmoor.

mlouw1@beeld.com

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2287813,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.