Sunday, 9 March 2008

Duisend woedendes ruk op ná verkragting

Gerhard de Bruin

Durban

Vergeet van die Kovsie-video. Wat van die wit vroue en kinders wat verkrag word?

Met plakkate soos dié het ’n groep van sowat duisend – meestal wit betogers – die afgelope week hul woede verwoord buite die Hillcrest-polisiekantoor waar die vermeende verkragters van ’n jong vrou aangehou is.

Die vyf vermeende verkragters, mnre. Lindani Maphumulo, Thabani Ntinga, Siyabonga Ntinga, Mbotho Msomi en Nthuthuko Chili, het Donderdag in die Pinetownse landdroshof verskyn.

Hulle word daarvan aangekla dat hulle mej. Jessica Foord (21) van Kloof, Durban, verlede Sondag herhaaldelik by die Sho-ngweni-dam verkrag het.

Dit het gebeur toe sy en haar pa, Tim, met hul honde langs die dam gaan stap het.

Sy het besluit om haar naam bekend te maak om ander verkragtingslagoffers te help.

Die mans sou Vrydag in die hof verskyn het, maar die datum is met ’n dag vervroeg nadat die polisie van die beplande betoging verneem het.

Woedende betogers is Vrydag na die Hillcrest-polisiekantoor toe hulle dit uitgevind het.

Hulle het gedreig om ’n polisievangwa om te keer en aan die brand te steek.

’n Betoger is daarna in hegtenis geneem, maar hy is later vrygelaat.

Die betogers is uiteindelik vreedsaam uitmekaar nadat hulle deur ’n senior polisieoffisier toegespreek is.

Die mans verskyn weer op 20 Maart in die hof.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2284604,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.