Friday, 14 March 2008

Familie soek nou net geregtigheid

Mnr. John Hart en sy vrou, Sylvia, wat in 2005 op hul kleinhoewe in Muldersdrift vermoor is.

Mar 13 2008 09:19:55:343PM - (SA)

Kim Snyders

Twee jaar ná die moord van ’n Britse paar op hul kleinhoewe in Muldersdrift buite Johannesburg wil hul seun en die res van die familie geregtigheid hê sodat hulle met hul lewens kan voortgaan.

Só sê mnr. Paul Hart, wie se ouers, John (88) en Sylvia (84), op 18 November 2005 wreed op hul kleinhoewe in Nooitgedacht, Muldersdrift, vermoor is.

Mnr. Calvin Bopape, voormalige tuinwerker van die Harts, het gister in die Johannesburg-hooggeregshof op aanklagte van moord, gewapende roof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie verskyn.

Mev. Hart is vermoedelik herhaaldelik met ’n gholfstok geslaan en in hul huis se gang aangetref.

Mnr. Hart sr. se lyk is agter ’n gebou sowat 50 m van die huis af gekry.

“Ek kan soort van verstaan as iemand steel om hul gesin te voed, maar daar was geen rede vir sulke geweld of wreedheid nie.

“My pa sou sonder enige moeilikheid alles oorhandig het,” het Hart jr. gesê.

Hart jr. en mev. Margaret Churchill, wat ten tyde van die moord ’n kothuis saam met haar man op die perseel gehuur het, het gister getuig.

Churchill en ’n kontrakteur, wat ’n dag ná die moord ’n afspraak met mnr. Hart gehad het, het op die paar se lyke afgekom.

Volgens Churchill het mnr. Hart kort voor sy dood aan ’n arbeidskonsultant gesê dat hy van sy werkers, insluitend Bopape, wou afdank.

“Volgens die konsultant was mnr. Hart ongelukkig met van sy werkers en wou hy van hulle laat gaan het.”

Volgens Hart jr. het sy ouers sowat 50 jaar al op die Swing Gate Farm-kleinhoewe gebly, maar kort voor hul moord begin rondkyk na ouetehuise.

“Hulle is al twee in Engeland gebore en het kort ná die Tweede Wêreldoorlog na Suid-Afrika verhuis,” het Hart vertel.

“Hulle het nooit enige probleme gehad voordat dit gebeur het nie. My pa was veiligheidsbewus en het elke dag na die veiligheidsheining gaan kyk.

“Ons het hulle jare tevore gevra om te trek, maar dit (die hoewe) was hul lewe. Teen die einde het hulle wel begin rondkyk.”

Die saak is na vandag uitgestel.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2287805,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.