Wednesday, 19 March 2008

‘Gegil en gegil’ ná kokende water...

Mar 18 2008 09:10:57:313PM - (SA)

Magdel Fourie

Telkens wat die rower kookwater oor haar vriendin langs haar se lyf uitgegooi het, het sy ook die kokende druppels op haar éie vel voel spat.

Só onthou me. Sanet Janse van Rensburg (29) die skriknag wat sy en die vermoorde me. Sandy Staats (68) in Staats se huis in Craighall Park deur rowers oorval, en Staats ure lank met onder meer kookwater gemartel is.

Met 60% brandwonde ná die aanval, is Staats tien dae daarna aan orgaanversaking dood.

Gister het die klein geboude Janse van Rensburg minder as ’n jaar later in die Johannesburgse hooggeregshof getuig teen mnr. Sibusiso Phakhati (34) wat weens dié moord teregstaan. Hoewel hy skuld ontken, het sy mede-beskuldigde, mnr. Isaac Mako (45), vroeër vanjaar skuld beken op die moord en is lewenslank tronk toe gestuur.

Janse Van Rensburg het driftig getuig hoe sy vroegaand van 20 April verlede jaar by Staats se huis aangekom het.

Ná ’n rustige gesprek in die sitkamer, is hulle na die badkamer waar sy grimering aangewend (sy was op pad om ’n vriendin op te laai), en Staats gereed gemaak het om te gaan slaap.

Kort daarna het drie mans, waarvan een met ’n mes gewapen was, die badkamer binnegekom en hulle grond toe gedwing.

“Om ons te probeer stilhou, is ons monde toegedruk en is ons verwurg. Ek het gesukkel om asem te haal.”

Phakhati het Staats toe met vrae gepeper oor wie nog in die huis was, waar hulle geld is, en waar hulle vuurwapens is.

Hulle het ontken dat hulle enigiets van die aard het.

Hierna is albei vroue met elektriese koorde vasgebind en ’n lap oor elkeen se mond en neus gebind.

Die vroue is toe na Staats se slaapkamer geneem om daar weer op die grond te lê, waar die mans se aggressie “geëskaleer” het, het Janse van Rensburg getuig.

Hoewel sy weens haar vasgebinde posisie nie alles kon sien nie, onthou sy hoe Sandy kort hierna van die pyn geskree het.

“Hulle het haar met sigarette gebrand en haar arms en bene in onnatuurlike posisies gebuig totdat sy gegil het.”

Eindelik het Phakhati ’n ketel in die kombuis gaan haal, dit ingeprop en “net ’n paar meter van my gekook.”

Toe dit gekook het, het hy die ketel uitgeprop en oor Staats gegooi, het Janse van Rensburg emosioneel vertel.

“Dit was só naby aan my, dat ek die kookwater op my vel kon voel spat.”

Staats het net gegil en gegil.

Hoewel Mako aan Janse van Rensburg gesê het dat hy nie gemaklik met dié marteling voel nie, het hy niks daaraan gedoen nie.

“Hy (Phakhati) het dit seker twee of drie keer gedoen – die water gekook, dit uitgeprop, weer ingeprop en dan net wéér gekook,” onthou sy.

’n Ruk later het sy ’n skoot gehoor, en het die polisie die kamer binnegestorm.

“Teen die tyd het Sandy (Staats) vreeslik geskud. Haar hande was vol blase – dit was oral net pienk. Haar hele lyf, behalwe haar gesig, was gebrand.”

Staats is dadelik na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal gehaas.

Benewens erge trauma, was Janse van Rensburg ongedeerd

Die verhoor duur voort.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2290603,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.