Thursday, 27 March 2008

Jong danseres tuis vermoor

Die polisie en 'n lid van 'n veiligheidsmaatskappy laai Esteé van Rensburg (19) van Faerie Glen, Pretoria, se lyk in 'n lykswa. Sy is gisteroggend dood in haar ouers se slaapkamer aangetref. Foto: Theana Calitz

Vermoor in ouerhuis. Esteé van Rensburg (19) van Faerie Glen, Pretoria is gister halfnaak, verkrag en vermoor op haar ouers se bed in hul huis in Pretoria gevind.

Mar 26 2008 09:32:51:150PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Jong ballerina en danser van die Vodacom-meerkat Moitia is gister halfnaak, verkrag en vermoor op haar ouers se bed in hul huis in Pretoria gevind.

Esteé van Rensburg (19) is dood weens ’n skoot in die kop. Sy was alleen in haar ouerhuis in Tonetti straat in Faerie Glen, Pretoria, toe sy aangeval is. Haar ouers, mnr. Koos en mev. Linda van Rensburg, was by die KKNK op Oudtshoorn.

“My kind is dood. Sy was my baby,” het mnr. Van Rensburg gister huilend gesê.

“Esteé sou vandag vlieg om by haar ouers aan te sluit,” het mnr. Abrie Burger, Esteé se oom, gister by die huis gesê.

Sy het twee jaar gelede aan die Hoërskool Waterkloof gematrikuleer. Esteé was die laaste tyd deel van die dansgroep KMAD Dance Company, bekend om kontemporêre en balletdanse.

Haar laaste SMS wat sy Paassondag aan haar ouers gestuur het, het gelui: “Di son het vandag uitgekom wat beteking nuwe lewe . . . JESUS het vandag opgestaan . . . Prys di HERE . . . Veilig ry vdag. Lief vi julle baja! Mwa”.

Me. Irene Molefe (50), die Van Rensburgs se huiswerker, het om 07:00 op haar lyk afgekom.

Kapt. Julia Claassen, polisiewoordvoerder, het gesê ’n televisie, rekenaar en Esteé se silwer Toyota Tazz (met die registrasienommer NNS 243 GP) is gesteel.

Haar handsak, selfoon, haar ma se juwele en verskeie ander waardevolle items in die huis, is nie gesteel nie.

Molefe het gesê toe sy by die huis gekom het, het sy die buitehek oopgesluit en om die huis gestap. “Ek wou nog die deur oopsluit, toe ek sien die skuifdeur staan reeds half oop.

“Ek het ingestap en geskreeu: ‘Môre, Esteé, ek is by die huis!’

“Die yskas het wawyd oopgestaan. Toe loer ek by die motorhuis in en sien haar kar is nie daar nie.

“Ek het begin skreeu: ‘Esteé! Esteé!’ Toe ek by haar ouers se kamer inkyk, het ek gesien sy lê soos ’n pop op die bed en daar was ’n kussing op haar gesig.”

Molefe het gesê sy het geskrik en na die bure oor die pad gehardloop vir hulp. “Ek het nog nooit so iets gesien nie,” het sy huilend vertel.

Mnr. Nathan Mowatt (19), die bure se seun, het gaan ondersoek instel. “Ek het die kamer se gordyne eenkant toe getrek en toe sien ek dit is Esteé wat op die bed lê.”

Hulle het die polisie ontbied en sy ma het Esteé se ouers in Oudts-hoorn met die slegte nuus gebel.

Mowatt het gesê Esteé was ’n uitsonderlike mens.

“Sy het altyd ’n hup in haar stap gehad, het altyd gelag en was die gelukkigste persoon wat ek geken het.

“Ek het haar ’n week gelede gesien, maar ons het net vir mekaar gewaai. Ek wens nou ek het toe ’n bietjie met haar gesels,” het hy gesê.

Die Van Rensburg-egpaar is sedert Vrydag in Oudtshoorn. Hulle sou ook eerskomende Sondag hul ander dogter, Minette, se baba se doop in George bygewoon het.

Die polisie ondersoek sake van huisbraak en moord.

Esteé en haar pa is sowat drie jaar gelede ook in hul huis aangeval en deur gewapende rowers aangehou. Burger het gesê Van Rensburg en sy dogter is toe gedwing om plat te lê waarna die rowers met hul motor gevlug het.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2294751,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.