Tuesday, 4 March 2008

Koeël skraap man

'Nie my dag om dood te gaan' Mnr. Gawie Le Roux (57) en sy vrou, Annalize (54), van Brits in Noordwes, vertel hoe hy rakelings aan die linkerkant van sy kop deur 'n koeël getref is toe 'n rower op hom geskiet het. Foto: Theana Calitz


Mnr. Gawie Le Roux van Brits in die Noordwes wys waar 'n gewapende rower se eerste skoot hom in linker bobeen getref het. Foto: Theana Calitz

Mar 03 2008 09:53:07:920PM - (SA)

Virginia Keppler

Die rooi skraap wat ’n koeël gelaat het op die voorkop van ’n man van Brits in Noordwes, was gister die getuienis van hoe naby hy aan die dood was toe hy rowers wou keer om sy motor te vat.

“Ek was gelukkig. Dit was nie my dag om dood te gaan nie,” het mnr. Gawie le Roux (57) gister dankbaar gesê.

Hy en sy vrou, Annalize (54), is omstreeks 20:00 Vrydagaand in hul motorhuis deur twee gewapende rowers oorval.

“Ons wil net so ’n paar goedjies by jou kry,” het ’n gewapende rower aan hom gesê.

Le Roux kon aanvanklik nie sy elektriese motorhuisdeur oopkry nie omdat die krag op die een of ander onbekende rede by die hoofskakelaar afgeslaan het.

Hy is toe by sy voordeur in na die kombuis waar hy die krag aangeskakel het. Hy het sy rewolwer onder ’n plastieksak op ’n kombuiskas neergesit voordat hy die motorhuis se deur gaan oopgemaak het.

Sy vrou het hul Honda by die motorhuis ingetrek. Le Roux was besig om hul bakkie in te trek toe hy hoor hoe iemand agter hom ’n pistool oorhaal.

“Hy (die rower) het gesê: ‘Klim uit, ons wil net so ’n paar goedjies by jou kry.’ Ek het stil geword en die Here gevra om oor te neem.”

Die rowers het die egpaar na hul hoofslaapkamer se badkamer geneem en Le Roux beveel om plat op die vloer langs die wasbak te sit.

Hulle het sy vrou beveel om op die toilet te sit, maar sy het geweier omdat sy ’n operasie aan haar voet gehad het. Hulle het haar toe beveel om op die bed te gaan lê, maar sy het steeds verseg.

Die een rower het toe al haar juwele, sleutels, haar trouringe en horlosie gevat en haar deur die huis geneem op soek na ’n kluis.

Toe hulle agterkom daar is nie ’n kluis met geld en wapens in nie, het hulle die egpaar na ’n spaarkamer geneem en gevra of hulle ’n opsporingstelsel in hul voertuig het.

“Nee,” het die egpaar geantwoord.

Hulle het toe die kamer verlaat en die deur agter hulle toegetrek.

“Toe ek hoor hulle start my Honda, toe sê ek vir Annalize: ‘De moer daarmee. Hulle gaan nie my kar vat nie,’ ” het Le Roux gister vertel.

Hy het uitgehardloop en sy voertuig se motorband probeer stukkend skiet, maar die skoot was mis.

Die rower het met sy pistool op Le Roux losgebrand. Die eerste koeël het deur die voertuig se voorruit getrek, die bakwerk getref, en is toe deur Le Roux se linkerbobeen en deur ’n tuinstoel wat agter hom gestaan het.

Die tweede skoot het die rooi spoor oor sy linkerkant van sy voorkop gelaat, tot onder sy hare in. Die koeël het in die muur agter hom vasgeslaan.

Die rowers het sy motor gelos en in hul eie motor gevlug terwyl hy nog twee skote in die lug geskiet het om hul bure te waarsku.

Die egpaar is dieselfde aand in die Brits MediClinic opgeneem en die volgende dag ontslaan. Hulle ontvang traumaberading.

Insp. Brain Dlamini, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die voorval.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2281513,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.