Tuesday, 25 March 2008

Leraar en vrou geskiet

Ds. Abri Pelser van die Gereformeerde Kerk in Meyerspark, in die ooste van Pretoria, praat oor hoe hy en sy gesin deur drie gewapende rowers oorval is. Pelser is in die been geskiet. Foto: Alet Pretorius

Mar 24 2008 08:39:48:627PM - (SA)

Hilda Fourie

Twee predikantskinders moes toekyk hoe rowers hul ouers aanrand, skop en op hulle skiet.

Terwyl drie gewapende mans ds. Abri Pelser (44), van die Gereformeerde Kerk in Meyerspark, in die ooste van Pretoria, en sy vrou, Dalize (45), aangerand het, het hy hardop gebid dat die Here hulle sal beskerm.

Pelser het gister in sy huis in Victorstraat in Murrayfield aan Beeld gesê die Here het hom, sy vrou en hul kinders Maretha (14) en Ami (12) beskerm, want hulle het oorleef.

Maretha en Ami het gesien wat die rowers met hul ouers doen.

“ ’n Mens preek elke Sondag vir ander mense om positief te bly. Ek moet daarteen waak om ná dié voorval nie negatief te raak nie,” sê Pelser.

Hy is gistermiddag uit die Wilgers-hospitaal ontslaan terwyl sy vrou tot môre nog in dié hospitaal sal bly.

Vriende van die Pelsers het Sondagaand ná kerk by hulle kom braai.

Omstreeks middernag het die predikantsegpaar hul vriende by die hek afgesien.

“Die honde was onrustig,” sê Pelser.

“Ek het agter om die huis na die agterdeur geloop om die deur te sluit en te kyk of ek iets gewaar.

“Toe ek ’n tree van die agterdeur is, het drie gewapende rowers op my afgestorm.

“Ek het geskree. My vrou was reeds in die huis. Toe sy hoor ek skree, het sy pepersproei gespuit.

“Die rowers het twee skote afgevuur en die pepersproei-kannetjie uit haar hand geskiet.

“Daarna het hulle my en my vrou op die grond gegooi, rondgeruk, geskop, geklap en ons met die vuurwapens se kolwe oor die kop geslaan. Hulle het my op ’n kort afstand net bo die knie geskiet.

“Ek het toe hardop begin bid dat die Here ons moet help.”

Maretha het agter die toonbank weggekruip, na haar ouers se kamer gesluip en die paniekknoppie gedruk.

Volgens Pelser het die rowers geskrik en weggehardloop toe hulle die alarm hoor afgaan.

Toe die rowers weg is, het Pelser die agterdeur toegedwing en gesluit.

Die polisie en die nooddienste was vinnig op die toneel en die egpaar is behandel.

Mev. Pelser se regterhand is ernstig beseer en haar bladbeen is gebreek.

“Dit was net ’n paar sekondes, maar het gevoel soos ’n ewigheid. Dit was ’n nagmerrie,” sê Pelser.

“Ek wil hê die land moet werk en dinge in die land moet werk, maar ons sal ’n groter poging moet insit.

“ ’n Mens neig daartoe dat dié tipe dinge jou negatief maak, maar ons moet waak daarteen. Ek moet self daarteen waak.”

Kapt. Johannes Maheso, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens hom het die verdagtes weggehardloop. Niks is gesteel nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

’n Saak van poging tot moord en poging tot roof word ondersoek.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2293420,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.