Monday, 17 March 2008

...maar hy is misdaadvoos en wil vlug

Mar 16 2008 09:20:21:883PM - (SA)

Annelene Moses, André Damons en Herman Scholtz

“Ek is byna bereid om my huis weg te gee. Ons wil vlug, maar ons weet nie waarheen nie.”

Só het mnr. Jack Ludick van Constantia Kloof, Roodepoort, “wat steeds in vrees leef” gister gesê nadat rowers verlede week sy bakkie wou steel en by sy huis wou inkom.

Hy het een van die vermeende rowers wat op hom geskiet het, doodgeskiet.

“Ek kan myself dit nie indink dat ek iemand anders se lewe geneem het nie. Ons is kerkmense en probeer altyd die regte ding doen. Dit gaan baie sleg en ek weet nie hoe ons ’n oog hierna gaan toemaak nie,” het Ludick kort ná die voorval gesê.

Die vier mans, waarvan glo net een gewapen was, het probeer om dié sakeman se Toyota Hilux te steel en het skote op hom gevuur. Een van die rowers is in die heup gewond en hul makkers het weggekom.

Volgens insp. Karen Jacobs, polisiewoordvoerder, word sake van moord en poging tot moord teen hom ondersoek, sowel as poging tot moord en diefstal teen die rowers.

Jacobs het gesê Ludick het kort ná 06:00 sy huisalarm gehoor afgaan en uit die bed opgestaan om ondersoek in te stel. Toe hy buite kom, het hy twee mans in sy bakkie gesien sit. Om die draai was nóg ’n man wat ’n vuurwapen op hom gerig het.

Die skurke het die bakkie aangeskakel en die eienaar was op sy balkon op die eerste verdieping, terwyl hulle met sy bakkie in die oprit agteruit gery het. Die gesin se ander twee motors se bande was stukkend gesteek.

“Dit was beslis ’n beplande rooftog. Ons het eers na die tyd besef die veiligheidsligte is vroeër die week stukkend geslaan en daar is met die alarm gepeuter.

“As hulle maar net die bakkie wou vat en wegry, maar die alarm het eers afgegaan toe hulle by die huis wou inkom.

“Die een wat die vuurwapen gehad het, het reg voor my balkon kom staan en op my begin skiet. Ek het teruggeskiet en hom gewond,” het hy gister gesê.

Volgens mnr. Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, is die gewonde man op die toneel behandel en onder polisiebewaking na die hospitaal geneem.

Ludick het aan Beeld gesê hy het reeds sy huis in die mark gesit en sodra dit verkoop is, gaan hulle na die Wes-Kaap verhuis.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2289319,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.